NMSF spook teen indringer
Die sorgvrye dae is verby, reken 'n administrateur van Namibiese motorsport.
Tielman van Lill – Die Namibiese Motorsportfederasie (NMSF) het die afgelope ruk gereeld met die Fédération Internationale de l'Automobile (FIA) en die Fédération Internationale Motorcycliste (FIM) via Zoom vir 'n uitkoms onderhandel.
Die NMSF is by dié twee wêreldbeheerliggame vir motor- en motorfietssport geaffilieer om aan internasionale regulasies en standaarde te voldoen.
Mnr. Derek Jacobs, 'n administrateur van die NMSF, sê: “Die Covid-19-pandemie het Namibiërs nie net finansieel uitgedaag nie, maar ook geestelik in 'n hoek gedruk. Om sake te vererger, is alle sportbyeenkomste in die land asook elders in die wêreld tot halt geroep om die verspreiding van die coronavirus hok te slaan.
“Wanneer mense in moeilike tye van die harde werklikhede wil ontsnap, is dit gewoonlik na plaaslike of internasionale sport. Maar met Covid-19 aan die stuur van sake is ons van sport ook ontneem.
“Gedurende die grendeltydperk het ons die voorgeskrewe riglyne van die regering en die Namibiese Sportkommissie (NSC) streng nagevolg. Ons het op gereelde basis gedurende fase 1, 2 en 3 van die grendeltydperk die inligting aan ons geaffilieerde lede gestuur.
“Ten spyte van die NMSF se kommunikasie met sy lede, is sommige klubs ontevrede met ons. Dié klubs is van mening dat ons hulle die afgelope ruk sedert Maartmaand beter kon of moes ondersteun het.
“Die NMSF moet die feit beklemtoon dat ons gedurende die eerste twee fases niks kon doen nie, want dieselfde reëls en regulasies het vir die NMSF en sy lede gegeld.
“Weens die verlies aan inkomste deur die verkoop van kompetisielisensies en geleentheidspermitte vir gekanselleerde byeenkomste, is die NMSF steeds onder finansiële druk. Die NMSF het wel vroeër vanjaar aansoek by die NSC vir finansiële ondersteuning gedoen, maar niks het daaruit voortgekom nie. As gevolg van die ekonomiese toestand in die land, kon ons geen borge kry nie.
“Die NMSF het egter nie stilgesit nie en het die grendelstatus produktief ingespan om die pad vorentoe te beplan. Ons het gereeld via Zoom met die FIA en FIM geskakel om protokol en regulasies vir die veilige terugkeer vir motorsport in die land te bespreek.
“Wanneer die NMSF die groen lig van die NSC ontvang om byeenkomste te hervat, sal ons gereed wees om ons lede van die regte advies, inligting en riglyne te voorsien.
“Die NMSF het reeds met die proses begin om voorkomende maatreëls met die hulp van die regering, NSC, FIA en FIM vir sy lede saam te stel. Met die voorkomende maatreëls in gedagte, sal alle organiseerders en beamptes opleiding moet kry alvorens enige kompetisie of byeenkoms kan plaasvind. Klubs sal verantwoordelik wees om self dié nuwe riglyne in werking te stel.
“Ons het onlangs die inisiatief geneem om met ander Namibiese sportverenigings in aanraking te kom. Die rede is om meer van mekaar se ervarings te leer. Die Covid-19-pandemie is vir ons almal 'n nuutjie en geen individu op sportverenigings het al die antwoorde vir die toekoms nie.
“Die tyd van sorgvrye dae is verby. Voortaan sal mense se koorstemperatuur by byeenkomste gemeet word en die dra van maskers is verpligtend, terwyl daar chronies hande gewas en ontsmet sal word. Sosiale afstand is die inding en mense sal gewoond moet raak aan bywoningsregisters om later kontakte op te spoor wat moontlik die virus onder lede mag hê.
“In die toekoms sal dit die klubs en organiseerders se plig wees om die nuwe reëls en regulasies af te dwing en te sorg dat dit nagekom word. Motorsportentoesiaste, beamptes en deelnemers sal elkeen hul deel moet bydra om hierdie protokol te laat slaag. Elkeen sal homself moet vergewis dat sy aksie, of die gebrek daaraan, 'n ander persoon kan beïnvloed.
“Die NMSF is die afgelope tyd oorval met versoeke van deelnemers en organiseerders om weer kompetisies te hou. Maar totdat ons nie die nodige toestemming gekry het nie, is ons hande afgekap.
“Ons versoek almal om geduldig te wees. Veiligheid en welsyn is veel belangriker as enige sportkode of kompetisie.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie