NMH hou tweede mediakamp vir 2016

Helene Bam
’n Tweede groep van sestig lede van die redaksionele spanne wat deel is van die skolekoerantprojek van Namibia Media Holdings (NMH), het die afgelope naweek ’n mediakamp by ’n lodge naby Okahandja bygewoon. Die Ohltaver & List-groep maak dié kampe moontlik deur die verblyfkoste tydens die kampe te borg.
Gedurende die naweek is leerlinge blootgestel aan ’n wye verskeidenheid mediamediums én -onderwerpe.
Die slypskole is deur die redakteurs, nuusredakteurs en gesoute joernaliste van NMH se dagblaaie aangebied.
Leerlinge het ook die geleentheid gehad om die jongste inligting- en elektroniese tegnologie te gebruik om video’s en klankgrepe te skep.
Nóg slypskole wat leerlinge bygewoon het, sluit media-etiek, bladontwerp en kopieredigering in.
Die mediakamp is van stapel gestuur om leerlinge oor die mediabedryf touwys te maak.
Die doel van die projek is om leerlinge aan te moedig om met nuwe en ondersoekende oë na hul skole en gemeenskappe te kyk, en sodoende hul horisonne te verbreed.
Die derde kamp vir skole in die Erongostreek sal in Augustus plaasvind.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer