NMH hou groot mediakamp vir 2016

Helene Bam
Helené Bam - Sestig lede van die redaksionele spanne wat deel is van die skolekoerant­projek van Namibia Media Holdings (NMH), het die afgelope naweek ’n mediakamp by die Midgard Country Estate naby Okahandja bygewoon.
Gedurende die naweek is leerlinge blootgestel aan ’n wye verskeidenheid mediamediums én -onderwerpe. Die slypskole is deur die redakteurs, nuusredakteurs en gesoute joernaliste van NMH se dagblaaie aangebied.
Leerlinge het ook die geleentheid gehad om die jongste inligting- en elektroniese tegnologie te gebruik om video’s en klankgrepe te skep.
Nóg slypskole wat leerlinge bygewoon het, sluit media-etiek, bladontwerp en kopieredigering in.
Die mediakamp is van stapel gestuur om leerlinge touwys oor die mediabedryf te maak én om deure in die media­wêreld vir hulle oop te maak. Die doel van die projek is om leerlinge aan te moedig om met nuwe en ondersoekende­ oë na hul skole en gemeenskappe te kyk, en sodoende hul horisonne te verbreed. Die projek beoog nie net om jong en nuwe ontwerpers, joernaliste en fotograwe op te lei nie, maar ook om ’n liefde vir koerantlees by ’n jonger geslag aan te wakker.
’n Tweede mediakamp vir ’n tweede groep leerlinge vind die naweek plaas en ’n derde kamp vir skole in die Erongo­streek sal in Augustus plaasvind. Die Ohlthaver & List-groep maak dié kampe moontlik deur die verblyfkoste tydens die kampe te borg.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer