NMH hou derde mediakamp
NMH hou derde mediakamp

NMH hou derde mediakamp

Helene Bam
’n Groep van sowat 60 hoërskoolleerlinge wat deel is van die redaksionele spanne van Namibia Media Holdings (NMH) se skolekoerantprojek in die Erongostreek, het vanaf Sondag tot Woensdag die derde NMH mediakamp by Midgard Country Estate naby Okahandja, bygewoon.
Leerlinge is gedurende die kamp aan ’n wye verskeidenheid mediamediums en -onderwerpe blootgestel. Verskeie slypskole is deur die redakteurs, nuusredakteurs en gesoute joernaliste van NMH se dagblaaie aangebied. Media-etiek, fotografie, bladuitleg en kopieredigering is van die slypskole wat tydens die kamp aangebied is.
Leerlinge het ook die geleentheid gehad om die jongste inligting- en elektroniese tegnologie te gebruik om video’s te skep.
Die mediakamp is van stapel gestuur om leerlinge oor die mediabedryf touwys te maak en om die redaksionele spanne van NMH se skolekoerantprojek met verskeie mediavaardighede te bemagtig.
Die vorige twee kampe wat in Junie en Julie plaasgevind het, is ook onderskeidelik deur 60 lede van die redaksionele spanne van skole in die sentrale gedeelte van die land bygewoon. Die Ohlthaver & List-groep maak dié kampe moontlik deur die verblyfkoste tydens die kampe te borg.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer