NLU herbevestig verbintenis tot ekonomiese vooruitgang
NLU herbevestig verbintenis tot ekonomiese vooruitgang

NLU herbevestig verbintenis tot ekonomiese vooruitgang

Ronelle Rademeyer
Die uitvoerende raad van die Namibië Landbou-unie (NLU) het hom verlede week tydens sy strategiese beplanningsessie opnuut verbind tot die ontwikkeling van strategieë ter ondersteuning van die Vyfde Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP5) en die Harambee-welvaartsplan.

“Die NLU se hoofdoel is die skepping van 'n optimale omgewing om die landbougedrewe ekonomie te laat groei, optimale produksie te verseker en sodoende welvaart te skep. Om hierdie doelstelling te bereik, is dit egter baie belangrik dat die rol en funksie van die staat en die privaat sektor in ekonomiese ontwikkeling duidelik gedefinieer en uitgeklaar word,” sê die unie in sy nuusbrief.

“Die NLU erken die landbou-ekonomie moet tot 'n mate gereguleer word, maar dat hierdie regulering eerder 'n ondersteunende rol moet speel om die privaat sektor die geleentheid te gee om te groei en te ontwikkel eerder as om beperkende maat­reëls in te stel. Dit is ook noodsaaklik dat die strategieë van die staat en die privaat sektor geharmoniseer moet word om 'n optimale omgewing vir ekonomiese groei te skep.”

Vir die kommersiële boerderysektor bly sekerheid oor grond en grondbesit 'n primêre voorvereiste vir verdere belegging, en dus ekonomiese groei, sê die NLU.

Die unie het ook sy bekommernis uitgespreek oor die staat se hoë salarisrekening as deel van die lopende begroting wat nie noodwendig altyd lei tot goeie diens­lewering deur daardie sektor nie. Verdere bekommernisse vir die NLU is die toename in misdaad wat nie net die landbousektor negatief beïnvloed nie, maar ander bedrywe soos toerisme.

Kommentaar

Republikein 2025-06-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer