Niks klein aan dié mannetjie
Iemand vra my onlangs waarom ons die koning van die diereryk in Afrikaans ’n mannetjie noem wanneer ons die manlike geslag spesifiseer. Verdien dié statige figuur nie om meer as leeumannetjie genoem te word nie? Al die woordeboeke beskryf die betekenis van die woord leeu immers nie sonder om die woord groot êrens te gebruik nie. Daarby kan die woord leeu by metaforiese uitbreiding ook verwys na iemand (noodwendig ’n man?) wat besonder sterk, dapper, bekwaam, ens. is. Engels het die adjektiwiese male, wat darem nie ’n verkleinwoord is nie, en om in Duits van ’n Löwenmännchen te praat, is raar. Engels en Duits het ook die vroulike vorme lioness en Löwin, maar in Afrikaans is leeuin verouderd – ons sê eerder leeuwyfie. Waarom leeuin juis in Afrikaans verouderd is, is nie duidelik nie.
Wat wel bo alle twyfel gesê kan word, is dat die gebruik van die woord mannetjie vir “manlike dier” geen Afrikaanse uitvinding is nie, maar so uit Middelnederlands geërf is. Die woord mannekin (< mannekijn) is in dié betekenis reeds in 1435 in Vlaandere gebruik, gevorm uit die s.nw. man of die manlike persoonsnaam manno plus die verkleiningsuffiks -kin. In Afrikaans ken ons die verwante mannekyn. Die Taalkommissie beskryf dié soort verskynsel as tradisie. Maar ons het darem ook maanhaar. (Terloops, daar is geen bewys om te suggereer dat die genoemde verkleiningsvorme implisiet sou kon verwys na enige bepaalde fisiologiese addendum wat onderskeidend met die tersaaklike geslag geassosieer sou kon word nie.)
Prof. Herman Beyer
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie