NHE-projek wil meer Namibiërs bemagtig

Augetto Graig
Augetto Graig

Die Nasionale Behuisingsonderneming (NHE) het Vrydag die volgende fase van hul Versoeke vir Voorstelle (RFP)-program aangekondig.

Hierduur sal die staatsonderneming met private kontrakteurs in vennootskap tree om vanaf Julie vanjaar 335 nuwe huise in sewe Namibiese dorpe te bou.

Volgens die program sal 82 nuwe huise op Outapi gebou word, 50 op Omuthiya en 77 op Keetmanshoop; Karibib en Omaruru kry gesamentlik 76 huise, 10 op Ongwe­diva en op Okakarara nog 40.

Die openbare-privaat-vennootskap-model word ingespan deur kontrakteurs wat op eie onkoste op NHE-grond bou en betaal word wanneer die huise verkoop is.

Volgens die NHE se woordvoerder, mnr. Eric Libongani, het die eerste fase 422 huise onder die 2018-'19-boekjaar gelewer. Rundu het 122 huise ontvang, Omuthiya 50 en 200 huise is op Oshakati gebou. Hy sê die eerste fase was teen 'n NHE-belegging van N$167 miljoen gedoen en tot hede is die betrokke kontrakteurs en private finansierders volledig betaal.

Fase 2 kom teen 'n verwagte belegging van N$124 miljoen. “Ingevolge dié ooreenkoms verskaf NHE die grond vir konstruksie en die finale produk word aan kliënte op die NHE se waglys verkoop,” sê Libongani.

“Dit is deel van NHE se voortdurende pogings om Namibiërs te bemagtig deur die voorsiening van bekostigbare en gehaltebehuising,” sê hy.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer