Nóg vrae oor Damian

Rugby
Stephen Nell – Vir Damian Willemse was Kade Wolhuter se doelskop van langs die kantlyn diep in Saterdag se wedstryd tussen die spanne van Groen en Goud op Nuweland sout in ’n diep wond.
Willemse se spel op losskakel het sleg afgesteek by dié van Elton Jantjies, en die selfversekerheid waarmee Wolhuter in sy kamee in die tweede helfte vir die Groenspan gespeel het, kan selfs die Stormers se afrigter, John Dobson, sy opsies laat oorweeg wanneer die Kapenaars hul eerste wedstryd in die Superrugby Unlocked-reeks speel.
Die Groenspan het met 25-9 gewen nadat hy met rustyd met 6-3 voor was. Dit was ’n welverdiende wen op die balans van die spel, danksy die voorspelers se goeie poging in die vaste fasette en die kalmte waarmee Jantjies op losskakel gespeel het.
Terselfdertyd kon die Goudspan met rustyd voorgeloop het as Willemse nie drie van sy vier skoppe pale toe verbrou het nie. Hy is in die tweede helfte ook koelkas toe gestuur nadat hy aan die blits Yaw Penxe getrek het toe dié waarskynlik ’n drie sou afrond. Daarvoor is ’n strafdrie aan Groen toegeken.
Curwin Bosch het later in die tweede helfte ’n verskil gemaak, maar toe was die Groenspan reeds op pad na ’n oorwinning danksy die sterk pak voorspelers en goeie spel deur die skakelpaar van Sanele Nohamba en Jantjies.
Net soos wat Dobson vroeër vanjaar in die Superreeks vir Willemse weens swak skopwerk moes doen, het die Goudspan se afrigter, Deon Davids, Saterdagaand vir hom in die bres getree.
“Damian het spesiale talent. Hy kan ’n wedstrydwenner wees, maar uiteraard is spelers ook nou en dan van stryk af. Dalk kan ons net sê dat Damian nie ’n goeie aand gehad het nie,” het Davids dit opgesom.
“Maar ons was ’n bietjie onder druk. Die toestande was moeilik en dis vroeg in die seisoen. Met sy ervaring en vermoëns sal hy vinnig kan opstaan. Hy sou geleer het uit die toestande en die druk. Ek dink hy gaan sterker terugkom.”
Die indruk dat Willemse tot veel meer in staat is, is gewis so. So ook dat stelskopwerk nie ’n losskakel definieer nie.
Maar enige span gaan van die agtervoet af baklei as hy nie die telbord aan die rol kan kry deur sy stelskopper of sy kantlynskoppe nie na wense is nie.
Wolhuter tel onder die jong spelers wat nader getrek is om insig in die Bok-opset te kry, en met seniors en nasionale afrigters te kan skouers skuur.
As Willemse nie sy sokkies optrek nie, kan Wolhuter of Tim Swiel hom straks vir die nr. 10-trui by die Stormers en Westelike Provinsie uit die kussings lig.
Mzwandile Stick, afrigter van die Groenspan, meen die oorwinning was danksy sy span se vermoë om “toetsrugby” te speel.
“Ek weet mense hou nie altyd daarvan om te sien hoe geskop word nie, maar dis waaroor toetsrugby aan. As jy sterk in die vaste fasette is en goed skop, sal jy waarskynlik ’n kans staan om die wedstryd te wen,” sê hy.
Puntemakers:
Groen 25 (6): Drieë: Strafdrie, Siya Kolisi, Juarno Augustus. Doelskop: Kade Wolhuter. Strafdoele: Elton Jantjies (2).
Goud 9 (3): Strafdoele: Damian Willemse, Curwin Bosch (2).
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer