Nóg pryse vir Duane Vermeulen

Rugby
Stephen Nell – ’n Week nadat hy die prys van Suid-Afrika se Rugbyspeler van die Jaar ontvang het, is Duane Vermeulen ook deur sy medespelers vereer.
Vermeulen het Donderdagaand met die Brightrock Players’ Choice se prys van Spelers se Speler van die Jaar vir 2020 weggestap.
Hy was die Bulle se kaptein in die Super Rugby Unlocked en Curriebeker-reekse – toernooie wat die Pretorianers gewen het.
Dis ’n seldsame gebeurtenis dat die speler wat deur die spelers vereer word ook die prys van Speler van die Jaar ontvang. Vermeulen het dit ook in 2014 vermag, Pieter-Steph du Toit verlede jaar, Jean de Villiers in 2008.
Om deur hul medespelers vereer te word, word deur die meeste spelers as ’n groter eer gereken as om die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se Speler van die Jaar te wees.
Onder die spelers is ’n groter waardering vir die donkiewerk en opofferings wat spanmaats maak as vir dié wat skares en die media se applous kry.
Die ander benoemdes vir die prys van Spelers se Speler van die Jaar was Vermeulen se Bulle-spanmaat Cornal Hendricks, die Cheetah-senter Frans Steyn en die Haaie-losskakel Curwin Bosch.
Die eerbetoon aan Vermeulen het nie daar geëindig nie. Hy is ook sy medespelers se Voorspeler van die Jaar. Dáár het hy die Stormers en Westelike Provinsie se Springbok-loskopstut, Steven Kitshoff, die Cheetahs se Jeandré Rudolph en nóg ’n spanmaat in Marco van Staden uitgestof.
Kitshoff, wat in die Stormers en WP se nr. 1-trui al wat vaskopstut is in die skrums laat les opsê het, is die enigste benoemde uit die Kaap.
Die 31-jarige Vermeulen, wat 54 toetse vir die Springbokke agter die blad het, kan straks ’n sterk kandidaat vir die kapteinskap wees wanneer daar later vanjaar teen die Britse en Ierse Leeus gespeel word. Soos sake tans staan, is Siya Kolisi, wat die Bokke in 2019 se Wêreldbeker-toernooi aangevoer het, op grond van sy spelpeil straks nie vir ’n plek in die beginspan bestem nie.
Lukhanyo Am, die Haaie se kaptein en buitesenter, is as sy medespelers se Verdediger van die Jaar aangewys. Hy het vir Rudolph, Andile Ntsila en Kitshoff om daardie prys uitgestof.
Die Leeus se Wandisile Simelane is as Agterspeler van die Jaar aangewys. Net soos vir die algehele prys was Hendricks, Steyn en Bosch die ander benoemdes.
Nóg ’n Leeu, Vincent Tshituka, het die Lovechange-prys ontvang, vir die speler wat die meeste verbetering getoon het. Stedman Gans (Bulle), Tiaan Swanepoel (Leeus) en Dylan Richardson (Haaie) was die ander benoemdes.
Morné van den Berg, ook van die Leeus, het die prys van Best off the Bench ontvang – die speler wat die grootste indruk van die plaasvervangersbank af gemaak het. Ander benoemdes was Thembelani Bholi (Haaie), en die Bulle Arno Botha en Sintu Manjezi.
• Pryse
SPELERS SE SPELER VAN DIE JAAR: Duane Vermeulen (Bulle).
Ander benoemdes: Frans Steyn (Cheetahs), Cornal Hendricks (Bulle), Curwin Bosch (Haaie).
VOORSPELER VAN DIE JAAR: Duane Vermeulen.
Ander benoemdes: Steven Kitshoff (Stormers/WP), Jeandré Rudolph (Cheetahs), Marco van Staden (Bulle).
AGTERSPELER VAN DIE JAAR: Wandisile Simelane (Leeus).
Ander benoemdes: Hendricks, Steyn, Bosch.
VERDEDIGER VAN DIE JAAR: Lukhanyo Am (Haaie).
Ander benoemdes: Rudolph, Andisa Ntsila (Cheetahs), Kitshoff.
BESTE VAN PLAASVERVANGERSBANK: Morné van den Berg (Leeus).
Ander benoemdes: Thembelani Bholi (Haaie), Arno Botha (Bulle), Sintu Manjezi (Bulle).
MEES VERBETERDE SPELER: Vincent Tshituka (Leeus).
Ander benoemdes: Stedman Gans (Bulle), Tiaan Swanepoel (Leeus), Dylan Richardson (Haaie).

FOTO
Duane Vermeulen hou die Curriebeker omhoog. Foto Gallo Images


Die Haaie-kaptein, Lukhanyo Am, is as die Verdediger van die Jaar aangewys. Foto Gallo Images

Kommentaar

Republikein 2025-06-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer