Nóg ’n storm bars om Katrina se kop
Die regerende party moet ophou om korrupte mense in die parlement aan te stel, sê ’n ontleder.
Denver Kisting – ’n Versoekskrif doen tans die ronde waarin die speaker, prof. Peter Katjavivi, gevra word om vir Katrina Hanse-Himarwa uit ’n parlementêre komitee te skop.
Dít kom nadat sy verlede week in dié komitee aangestel is wat gemoeid is met wetgewing.
In die aanlyn versoekskrif eis talle Namibiërs Hanse-Himarwa se kop omdat sy volgens hulle nie bevoeg vir die rol is nie weens haar kriminele rekord.
Sy is verlede jaar skuldig bevind aan ’n klag onder die teenkorrupsiewet nadat sy in 2014 as Hardapgoewerneur twee name van opposisiepartylede van ’n massabehuisingskemalys verwyder het en met dié van twee van haar familielede vervang het.
Oor die jongste relletjie het Hanse-Himarwa die afgelope naweek aan Republikein gesê: “Hmmm, hulle moet my eers uit die parlement verwyder, want dit is die groter wetmakende huis.”
Mnr. Graham Hopwood, die uitvoerende direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), het gister gesê: “My eie perspektief is dat as (mnr. Sacky) Shanghala en (mnr. Bernhard) Esau aan die NV onttrek is, dan moes Swapo sekerlik vir Hanse-Himarwa en Marina Kandumbu onttrek het – albei is aan korrupsie skuldig bevind. Die kernprobleem is Swapo wat korrupte mense in die NV sit.”
Mnr. Norman Tjombe, ’n Windhoekse prokureur, het gister gesê inwoners het die reg om aan te dring dat hul verteenwoordigers, veral belangrikes soos LP’s, hul belange op ’n geskikte manier verteenwoordig.
“As die inwoners ’n probleem het met ’n spesifieke verteenwoordiger – of daardie verteenwoordiger se rol in die parlement – is hulle geregtig daarop om regstellende stappe te eis, soos die verwydering van daardie verteenwoordiger uit ’n spesifieke rol. Die leiers beter luister en die eise ernstig oorweeg in plaas daarvan om dit arrogant te verwerp,” sê hy.
NV se weergawe
Die woordvoerder van die NV, mnr. David Nahogandja, het gister by navraag gesê Hanse-Himarwa is in twee komitees aangestel: een wat gemoeid is met grondwetlike- en regsaangeleenthede en die menslikehulpbronne- en gemeenskapsontwikkelingskomitee.
Hy sê wanneer ’n LP nie meer as ’n minister dien nie maar aanbly as LP, vereis die parlement se reëls dat dié persoon aansluit by en dien in ’n parlementêre komitee.
“Dit is deel van die werk van agterbankers,” sê hy.
Ná haar skuldigbevinding in die Windhoek-hoërhof het sy verlede jaar bedank as minister van onderwys, kuns en kultuur.
Sy is sedertdien ’n agterbanker in die NV.
Behalwe as pres. Hage Geingob haar aanstaande maand as een van sy sewe oorblywende agt niestemgeregtigde NV-lede aanstel, is sy waarskynlik haar setel kwyt.
Sy het nie waffers gevaar tydens Swapo se kieskollege waartydens NV-lede gekies word nie.
Nahogandja het gister gesê Hanse-Himarwa se termyn as komiteelid verstryk op 19 Maart voor die nuwe LP’s ingesweer word.
Shanghala en Esau is verlede week deur Swapo aan die NV onttrek en van die party se NV-lys vir die volgende vyf jaar verwyder weens hul beweerde rol in die plundering van Namibiese viskwotas.
Albei mans is tans in aanhouding in verband met dié skandaal.
Geingob het reeds onlangs die jeugleier mnr. Ephraim Nekongo as een van sy agt NV-lede aangestel.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie