Nóg brandstofskokke kom

Namibië steeds goedkoper as meeste SADC-lande

17 August 2018 | Energie
Ogone Tlhage - Die onafhanklike ekonoom mnr. Klaus Schade sê die verswakking van die Suid-Afrikaanse rand beteken motoriste in dié buurland en Namibië sal voortdurend meer vir petrol en diesel moet opdok.

“Die Suid-Afrikaanse rand en dus die Namibiese dollar het onlangs druk ervaar as gevolg van plaaslike faktore soos die debat oor grondonteiening en internasionale faktore soos Amerika se sanksies teen Turkye, wat daartoe gelei het dat beleggersentiment teen die geldeenhede van ontluikende markte soos ons geldeenheid gedraai het," het Schade gesê.

Volgens inligting van die ministerie van myne en energie was onderverhalings vir Junie N$0,63 per liter vir loodvrye petrol, N$0,57 vir 500 ppm diesel en N$0,56 vir 50 ppm diesel.

Brandstofpryse sal dus waarskynlik moet styg om verliese wat brandstofhandelaars as gevolg daarvan mag ly, te verhaal.

"Tot dusver het die Nasionale Energiefonds (NEF) die onderverhalings (verliese van die verkoop van brandstof) geabsorbeer. As onderverhalings voortduur, sal die NEF waarskynlik die pryse moet verhoog om verliese te verhaal," het Schade gesê.

Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, het gesê Namibië se brandstof is steeds goedkoop in vergelyking met ander lande in die streek.

Hy het gereageer op vrae rakende die stygende brandstofpryse in die land, asook in die streek, wat motoriste ontstel wat reeds sukkel om die pot aan die kook te hou.

Vir die grootste deel van die jaar het motoriste nie brandstofprysverhogings ervaar nie, behalwe vir Junie en Augustus, wat ook 'n verhoging van brandstofbelasting ingesluit het.

“Die ministerie kan die verhogings nie regtig beheer nie, gegewe waardeur dit beïnvloed word. Die ministerie gebruik egter die NEF om verhogings te versag deur die pompprys te subsidieer. Teen N$12,97 per liter is petrol steeds goedkoop,” het Alweendo gesê.

NAMIBIëRS 'GELUKKIG'

Afgesien hiervan kan Namibiërs hulself steeds gelukkig ag dat hulle nie soveel soos motoriste in ander lande van Suider-Afrika hoef te betaal nie, met die uitsondering van Botswana.

Die permanente sekretaris van myne en energie, mnr. Simeon Negumbo, het verduidelik faktore soos versekering, vragkoste en die koste van brandstof self speel 'n rol in wat motoriste moet betaal.

“Die basiese brandstofprys word hoofsaaklik saamgestel uit koste, versekering en vrag. Plaaslike heffings en marges word dan by die ander koste gevoeg om 'n finale pompprys per dorp vas te stel," verduidelik Negumbo.

In gevalle waar die brandstofprys laer is as die markpryse, word 'n kosteverhalingsmodel gebruik om te verseker dat pryse opwaarts aangepas word om balans in die mark te handhaaf.

Die kosteverhalingsmodel word ook gebruik om pryse afwaarts aan te pas tot die vlak wat deur die mark bepaal word om pryse te balanseer, het Negumbo verduidelik.

Hy het gesê Botswana se pula gee motoriste in dié land 'n mate van verligting van stygende brandstofkoste, terwyl die Suid-Afrikaanse regering nie brandstof subsidieer, soos in Namibië nie.

"Suid-Afrika subsidieer nie sy brandstof nie; alle koste word direk aan verbruikers oorgedra. Botswana se pula is 'n bietjie sterker as die Namibiese dollar en daarom het Botswana 'n mate van voordeel wat internasionale handel betref," het Negumbo gesê.

Schade het gesê Namibiese motoriste kan hulself troos daaraan dat brandstof hier goedkoper is as in Suid-Afrika, waar petrolpryse nou N$16 'n liter op plekke is.

“Namibië se per capita-inkomste is hoër as die meeste buurlande s’n, behalwe vir Botswana en Suid-Afrika. Dus is brandstof meer bekostigbaar in Namibië as in ons buurlande met die uitsondering van Botswana,” het Schade gesê.

Ondanks die waargenome toename is brandstofpryse volgens Schade goedkoper relatief tot 2012 se prysvlakke en inflasie.

“In Augustus 2012 was die prys vir 95-petrol N$9,96 per liter en vir diesel (500 ppm) N$10,36 per liter in Windhoek. In Augustus 2018 is pryse onderskeidelik N$12,97 en N$13,31 per liter.

"Maar as inflasie oor die jare in ag geneem word, is pryse tans laer as wat dit sou gewees het as dit teen dieselfde tempo as inflasie toegeneem het.

“Aangepas vir inflasie sedert 2012, sou 95-petrol N$13,85 per liter en diesel 500 ppm N$14,41 per liter gekos het,” het Schade gesê.

“Vir motoriste wat inflasie-aangepaste salarisverhogings oor die jare gekry het, het brandstof dus meer bekostigbaar geword.”

PROTESOPTOG TEEN PRYSVERHOGINGS

Suid-Afrikaanse motoriste het onlangs na die land se hoofroetes opgeruk om laer brandstofpryse te eis.

Hoofpaaie en -roetes in Pietermaritzburg is deur stilstaande vragmotors geblokkeer.

Dít nadat brandstofpryse vyf keer vanjaar verhoog het, en meer verhogings word volgens die Automobiel Assosiasie (AA) verwag, wat kommentaar gelewer het op ongeouditeerde midmaandelikse brandstofprysdata vir Julie, wat deur die Sentrale Energiefonds uitgereik is.

Ondersteuners van die voormalige Suid-Afrikaanse president Jacob Zuma het kiesers Maandag aangemoedig om volgende jaar se verkiesing te boikot as politieke partye nie daarin slaag om druk op pres. Cyril Ramaphosa te plaas om petrolprysverhogings te voorkom nie.

People Against Petrol and Paraffin Price Increase het verskeie politieke partye gevra om deel van die protesoptog te wees, maar slegs die Black First Land First (BLF) en die minder bekende National Peoples Ambassadors het dit bygewoon.

Soortgelyk

 

Afrika-lied kom tuis in Namib

14 ure gelede | Kuns en vermaak

Elvira Hattingh - Die Duits-Namibiese kunstenaar Max Siedentopf het wêreldwyd opslae gemaak met ‘n kunsinstallasie in die Namib wat Toto se bekende liedjie “Africa” oor...

CoW verloor ronde teen baas

14 ure gelede | Regering

Denver Kisting - Die geskorste uitvoerende hoof van die Windhoekse stadsraad (CoW), mnr. Robert Kahimise, het 'n ronde teen sy werkgewer gewen.CoW sal waarskynlik binne...

Sowat 7 000 skeepspassasiers sak op Walvis toe

14 ure gelede | Toerisme

Geskiedenis is gister gemaak toe vier groot passasierskepe in die Walvisbaai-hawe op anker gelê het en sowat 7 000 internasionale reisigers op die hawedorp toegesak...

Herstel internet, toegang tot sosiale media in Zim

14 ure gelede | Plaaslik

Ronelle Rademeyer - Om mense in Zimbabwe die gebruik van internetdienste te ontneem, is ‘n skending van hul menseregte en benadeel die ekonomie.“Ons raam die...

Weer vir 17 Januarie 2019

14 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en bloedig warm in die ||Kharasstreek. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele donderbuie oor die sentrale,...

Jong Namibiër maak biomediese deurbrake

14 ure gelede | Gesondheid

Denver Kisting - Sy twee jonger sibbe se worsteling as kinders met asma het ’n jong Namibiese ingenieur aangespoor om ’n toestel te ontwerp wat...

Lui-lui telefoon

14 ure gelede | Tegnologie

Telecom Namibia se landlyne in Windhoek was sedert Dinsdag buite werking. Mnr. Oiva Angula, Telecom Namibia se hoof van korporatiewe kommunikaise en openbare skakelwese, het...

Gedenkdiens gehou vir slagoffers van ongeluk

14 ure gelede | Plaaslik

’n Gedenkdiens vir ses van die sewe slagoffers wat onherkenbaar verbrand is tydens die ongeluk op 10 Augustus 2018, is Dinsdag op Otjiwarongo gehou. Die...

Meer as N$2 miljoen se stukkende verkeersligte

14 ure gelede | Regering

Die hoofstad se munisipaliteit het in 2018 meer as N$2 miljoen bestee om stukkende verkeersligte te herstel nadat dit in padongelukke beskadig is.Mnr. Harold Akwenye,...