Net 30% van Rundu se inwoners betaal hul rekeninge
Net 30% van Rundu se inwoners betaal hul rekeninge

Net 30% van Rundu se inwoners betaal hul rekeninge

Kenya Kambowe
Kenya Kambowe op Rundu – Die woordvoerder van Rundu se dorpsraad, mnr. Benjamin Makayi, sê die dorp is weens 'n gebrek aan hulpbronne nie in staat om dienste aan inwoners te lewer nie – aangesien slegs 30% van inwoners hul munisipale rekeninge vereffen.

Makayi het gesê uit ongeveer 15 000 huishoudings en instansies betaal net ongeveer 4 500 die ver­skuldigde bedrae. Nie almal vereffen hul skuld ten volle nie, het hy bygevoeg.

Van die wanbetalers ontvang 70% volgens Makayi gratis munisipale dienste, maar hulle is steeds onder diegene wat kla oor swak dienslewering.

“Wat verwag jy?” het hy gesê nadat die dorp verlede week nie vir water kon betaal nie.

Sonder voldoende hulpbronne kan die dorpsraad volgens Makayi nie sy mandaat nakom nie. Selfs al stel hulle hoogs gekwalifiseerde mense aan, sal die kwessie van inwoners se gebrek aan samewerking volgens hom getakel moet word.

Inwoners moes noodgedwonge water uit die Kavangorivier gebruik toe krane vanaf verlede Sondag tot Donderdag toegedraai is.

Water wat die raad reeds by NamWater aangekoop het, was op en die plaaslike owerheid het nie geld gehad om vir bykomende water te betaal nie.

Makayi het aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê die raad is nog steeds in die rooi. NamWater het op skuld N$2 miljoen se water aan die munisipaliteit voorgeskiet.

Volgens Makayi sal dié voorraad waarskynlik net twee weke hou.

Rundu se skuld aan NamWater beloop meer as N$120 miljoen. Die dorp moet as gevolg hiervan vooraf vir water betaal.

Rundu benodig ongeveer N$14 miljoen per maand om hul bedrywighede behoorlik te bestuur, maar die dorp kry nie soveel geld van inwoners nie.

Die plaaslike owerheid het die hulp ingeroep van 'n skuldinvorderaar, Redforce Debt Management, aan wie inwoners nie hul samewerking wil gee nie.

Makayi het gesê mense maak beloftes aan Redforce dat hulle hul rekeninge sal betaal, maar dat hulle nie dié ooreenkomste nakom nie.

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer