Net 20% van direksies is vroue
Net 20% van direksies is vroue

Net 20% van direksies is vroue

Nellie Brand-Jonker – Jy val dalk onder die 45% van die werkende bevolking in die land wat vroue is, maar moenie dink jy word op direksies verteenwoordig nie.

Slegs 20% van die direkteure van JSE-genoteerde maatskappye is vroue, toon ’n nuwe verslag wat deur die Universiteit Stellenbosch se Sakeskool (USB) uitgereik is. Dit toon die gebrek aan diversiteit op die direksies van die genoteerde maatskappye in Suid-Afrika.

Die navorsing strek van 2012 tot 2017 om te bepaal hoe die situasie oor dié tydperk verander het.

Net 26 van die 277 maatskappye wat ondersoek is, het oor dié vyf jaar bestendig ’n direksie gehad waarvan ’n kwart vroue is. Sowat 45 van die maatskappye het geen vrouedirekteure gehad nie, volgens prof. Anita Bosch van die USB.

Bosch is die hoofskrywer van die verslag getiteld “Women on South African Boards: Facts, Fiction and Forward Thinking”.

“Vrouesakeleiers se verskil in perspektief en netwerke kan baie voordelig wees vir direksies, maar dit word nie benut nie,” sê Bosch in ’n verklaring.

Sy sê dit is ondanks ’n “groot getal gekwalifiseerde en bekwame vroue” in die mark waarmee die wanbalans tussen die geslagte reggestel kan word.

In die verslag word aanbeveel dat maatskappye vrywillig ’n teiken aanvaar dat 30% van hul direkteure vroue moet wees omdat dit as “redelik en uitvoerbaar beskou word”.

Dié persentasie is reeds in Australië en amper in Brittanje bereik. Die twee lande het die hoogste persentasie van tien lande waarmee die syfers in die verslag vergelyk word.

Terselfdertyd word daar genoem dat 40% ’n goeie doelwit is om na te streef.

Suid-Afrika het geen wetgewing wat spesifiek van maatskappye vereis om vroue op hul direksies te hê nie.

Boonop is gevind dat die noteringsvereistes van die JSE in dié verband “beperk in omvang, relevansie, impak en uitvoerbaarheid” is.

“Daar is byvoorbeeld geen gevolge vir maatskappy wat op die JSE genoteer is as hulle nie voldoen aan die vereistes wat verband hou met die bevordering van geslagsdiversiteit op direksievlak nie,” sê Bosch.

Volgens haar is daar ’n “gewilde siening” onder direkteure dat daar nie genoeg geskikte vroue is wat as direkteure kan dien nie. Sy sê die teendeel is waar en dis eerder ’n geval van direksies wat nie “buite hul gewone, gerieflike netwerke” na geskikte direkteure wil soek nie.

Die publikasie van die verslag is deur WDB Investment Holdings (WDBIH) geborg – ’n maatskappy wat deur vroue besit en bestuur word.

Die verslag stel ondersoek in na wat nodig is om meer vroue op direksies te kry en wat vrouedirekteure benodig om “mag en invloed te kry om verandering moontlik te maak”.

Talle aanbevelinge word gedoen, insluitende dat monitering en verslaggewing verbeter, dat maatreëls opgedwing word en dat daar gevolge moet wees vir die maatskappye wat nie daaraan voldoen nie.

Nog ’n aanbeveling is dat “skadu-direksies” ingestel word om die volgende generasie van direkteure op te lei en dat werwing daarvoor gedoen moet word.

“In Suid-Afrika kan ons net vrywillige teikens instel, aangesien kwotas as ongrondwetlik beskou word. Vrywillige teikens kan egter net so doeltreffend soos ’n kwotastelsel wees,” sê sy.

“Die sukses lê in die opdwinging van vrywillige teikens en boetes, selfs al is dit net deur maatskaplike druk op ’n maatskappy wat weier om sy eie teikens te probeer behaal.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer