Net 10% van SA het internet by die huis
Net 10% van SA het internet by die huis

Net 10% van SA het internet by die huis

'n Betreklik klein aantal Suid-Afrikaners het teoreties toegang tot stromingsdienste soos Netflix of Showmax.
Petus Malherbe



As jy, afgesien van jou selfoon, internettoegang by die huis het, is jy deel van 'n skamele 10% van Suid-Afrikaners.

Dit beteken effektief dat net 'n betreklik klein aantal Suid-Afrikaners teoreties toegang het tot stromingsdienste soos Netflix of Showmax wat 'n vinnige internetverbinding by die huis benodig.

Veral in afgeleë gebiede in Limpopo, Noordwes en die Noord-Kaap is 'n huishouding met 'n internetverbinding tuis so skaars soos hoendertande. Gesamentlik het skaars 2% van huishoudings in hierdie provinsies internet by die huis.

Dit is deel van die jongste bevindinge van Statistieke Suid-Afrika (SSA) se algemene huishoudelike peiling vir 2018, wat Dinsdag uitgereik is.

Daarvolgens het die aantal huishoudings met internettoegang tussen 2017 en 2018 met 0,2% afgeneem.

Die aantal Suid-Afrikaners wat wel toegang het tot die internet, hetsy by die huis, 'n internetkafee, op 'n selfoon of by die werk, het wel toegeneem van 62% in 2017 tot 65% in 2018.

In Gauteng het bykans 75% van die inwoners internettoegang; in Limpopo is dié syfer minder as 47%.

Enigiemand wat wel toegang tot die internet het, verkry dit in alle waarskynlikheid op sy of haar selfoon.

Waar net 10% van Suid-Afrikaners internettoegang by die huis het, kry meer as 60% wel toegang op hul mobiele toestelle.

Dis g'n wonder dat diensverskaffers 'n al groter persentasie van hul inkomste uit die verkoop van selfoondata verdien nie.

'n Gebrek aan behoorlike 3G-dekking in afgeleë gebiede, veral in Limpopo, die Oos- en die Noord-Kaap, maak dit wel moeilik vir inwoners hier om enigsins internettoegang te bekom.

Trouens, 10% van Noord-Kapenaars het geen kommunikasiemiddel tot hul beskikking nie, die hoogste uit al die provinsies.

In Mpumalanga beloop dié syfer net 1,1%. Dit beteken net 'n klein aantal inwoners hier het nie 'n selfoon of 'n landlyn nie.

Al hoe meer Suid-Afrikaners raak ook ontslae van hul landlyne namate Telkom hierdie oudmodiese kommunikasiemiddel uitfaseer. Luidens Telkom se jongste jaarsyfers het sy aantal landlyngebruikers in die jaar tot einde Maart met 15% afgeneem. Landwyd het diegene met 'n landlyn én 'n selfoon van 8,2% van die bevolking tot 7,1% gedaal.

Minder as 2% van die mense in Limpopo het nog 'n landlyn én 'n selfoon.

'n Onbenullige klein aantal Suid-Afrikaners gebruik nog net 'n landlyn. Volgens die SSA is daar iewers nog sowat 58 000 Suid-Afrikaners sonder 'n selfoon, maar wat wel 'n landlyn het.

Die meeste van hulle woon in die Noord-Kaap en KwaZulu-Natal.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer