Nersa gaan wu00e9u00e9r besin oor kragtariewe
Nersa gaan wu00e9u00e9r besin oor kragtariewe

Nersa gaan wéér besin oor kragtariewe

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) in Suid-Afrika sal in Mei openbare sittings hou oor Eskom se aansoeke vir tariefverhogings.
Francois Williams - Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het Eskom se drie aansoeke vir aanpassings in sy tariewe vir kommentaar gepubliseer.

Dit is aansoeke ingevolge die regulatoriese balansrekening, oftewel ’n meganisme waardeur Nersa vir Eskom toelaat om tussentydse aanpassings in sy tariewe aan te vra.

Dit word toegelaat omdat aannames wat Eskom in veeljarige tariefaansoeke maak nie noodwendig realiseer nie, en Nersa laat Eskom dan toe om aanpassings in tariewe te kry.



Die drie aansoeke wat Eskom ingedien het, bedra R66,6 miljard in totaal en verwys na die boekjare 2014-’15, 2015-’16 en 2016-’17.

Nersa het belanghebbers tyd gegee tot 23 Maart om op die aansoeke kommentaar te lewer.

Dit kom nadat hy in Desember Eskom se eenjarige tariefaansoek vir 2018-’19 afgekeur het en net 5,23% se tariefverhogings toegelaat het.

Nersa sal in Mei openbare sittings oor die aansoeke hou en ’n finale besluit in Augustus bekend maak.

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het Dinsdag in ’n onderhoud met die nuusdiens Enca gesê die geldkrisis by Eskom tans is juis weens die vertraging in die verwerking van dié aanpassingsaansoeke, asook die feit dat Nersa in die vorige jaar net ’n verhoging van 2% aan Eskom toegestaan het.

Eskom skarrel tans om finansiering te bekom omdat hy in Februarie en Maart in totaal R20 miljard se skuld moet terugbetaal. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer