Nege vas vir veediefstal
Nege vas vir veediefstal

Nege vas vir veediefstal

Ses mans wat met ’n veediefstalsindikaat in die Okahandja-distrik verbind word, is die naweek deur ’n gesamentlike span bestaande uit lede van die polisie en die teenstropingseenheid op Okahandja vasgetrek.

Die polisie se woordvoerder vir die Otjozondjupastreek, insp. Maureen Mbeha, het in ’n onderhoud met Nampa gesê die vermeende veediewe is tussen 23 en 46 jaar oud.

“Tydens ons ondersoeke is bevind die verdagtes het 11 bokke op twee verskillende plase in die Okahandja-omgewing geslag. Die 11 karkasse is by die verdagtes gevind,” sê sy.

Die waarde van die karkasse is volgens haar na raming N$17 000.

Die ses verdagtes sal na verwagting in die loop van die week in die landdroshof op die dorp verskyn.

In ’n onverwante geval is drie mans Sondagmiddag in hegtenis geneem ná hulle glo betrap is waar hulle 25 sakke gedroogde vleis op ’n bakkie op ’n plaas buite Outjo laai.

Volgens Mbeha het dié verdagtes verlede Dinsdag 11 beeste met ’n beraamde waarde van N$154 000 van die plaas Tzaas nr. 217 na die nabygeleë plaas, Tzaus, verjaag.

Die beeste is hier glo geslag en die vleis gedroog. Volgens Mbeha is drie van die vier betrokkenes Sondag deur die teenstropingseenheid in hegtenis geneem, wat besig was om die gebied te patrolleer.

Die vierde verdagte het na bewering van die toneel gevlug.

Mbeha sê die drie verdagtes wat agter tralies is, sal na verwagting later die week op ’n aanklag van veediefstal in die landdroshof op Outjo verskyn.

Die polisieondersoeke na beide voorvalle duur voort. – Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer