Nege in hof oor renosterstropery
Nege in hof oor renosterstropery

Nege in hof oor renosterstropery

Nadat ''n renosterbul verlede week in die Etosha Nasionale­ Park gekwes en weens sy beserings­ uitgesit moes word, het nege beskuldigdes op ­verskeie klagte verskyn.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Vier mans het Maandag in die landdroshof op Opuwo in verband met die gekweste renoster in die Etosha Nasionale Park verskyn en twee in die landdroshof op Kamanjab.

Nóg drie mans, onder wie ''n werknemer van die ministerie van landbou, water en bosbou, het in ''n verwante saak van renosterstropery in die landdroshof op Opuwo verskyn, maar op ander klagte.

Die gekweste renosterbul is verlede Dinsdag in Etosha gevind en die ses vermeende stropers is die volgende dag in hegtenis geneem. Die renoster moes later weens ernstige beserings aan sy poot deur veeartse van die ministerie van die omgewing en toerisme van kant gemaak word nadat hulle gespook het om sy lewe te red.

Staatsaanklaer Obert Masendeke het gister aan Republikein gesê twee beskuldigdes, mnre. Daniel Nghinyekua en Johannes Amwaama, het hul eerste verskyning Maandag in die landdroshof op Kamanjab gemaak en hul saak is na Opuwo oorgeplaas. Hulle sal vandag saam met hul medebeskuldigdes voor landdros Leena Iyambo verskyn.

Die vier medebeskuldigdes, mnre. Daniel Shilongo, Amupoko Risto Ekandjo, Petrus Ukongo en Epafras Kasita Eliakim, het Maandag in die landdroshof op Opuwo verskyn.

Die ses verskyn op klagte van die jag van spesiaal-beskermde wild (''n swartrenoster), die inneem van ''n vuurwapen in ''n nasionale park, die besit van ''n vuurwapen sonder ''n lisensie, die besit van ammunisie en die betreding van ''n nasionale park sonder skriftelike toestemming.

Masendeke sê hy het borgtog ten sterkste teengestaan op grond daarvan dat hulle met die ondersoek kan inmeng en met getuies kan inmeng.

“Nog inhegtenisnemings word verwag,” het hy gesê.



VERWANTE SAAK

In ''n verwante saak van renosterstropery met ander klagte waartydens Masendeke as staatsaanklaer optree, het mnre. Erasmus Anghuwo, Mika Andreas en Sakeus Ngalandji ook Maandag voor Iyambo verskyn.

Anghuwo, ''n werknemer van die ministerie van landbou, water en bosbou, het op klagte van die korrupte misbruik van sy kantoor of posisie vir selfverryking, vervalsing en die betreding van ''n nasionale park verskyn.

Masendeke sê Anghuwo het na bewering sy twee medebeskuldigdes toestemming gegee om met ''n regeringsvoertuig van Outapi na Etosha te ry. Andreas en Ngalandji is aangekla van vervalsing, die gebruik van ''n voertuig sonder die eienaar se toestemming en die betreding en verblyf in ''n nasionale park sonder toestemming.

“Anghuwo, Andreas en Ngalandji kan ''n bykomende klag van renosterstropery in die gesig staar,” het Masendeke gesê, met die polisie wat nou ''n saak van renosterstropery by die Verda-hek by Etosha in die Kunene­streek ondersoek.

Die drie beskuldigdes se saak is tot 1 Maart vir verdere ondersoek uitgestel.



20 STROPERS VAS

Intussen het die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, gister tydens die 2016 Harambee-­oorsig gesê meer as 20 stropers, meestal in Etosha, is verlede week in hegtenis geneem.

Hy het ook gesê daar is ''n verandering in strategie om stropers vas te vat: “Ons moet diegene wat deur sakelui en Chinese gestuur word in ''n hinderlaag lei.”

Shifeta het ook erken dat daar skiet­gevegte tussen stropers en wetstoepassers plaasgevind het. Hy meen die stropery is nie ''n krisis nie: “Stropery is 1-2% teenoor die natuurlike aanwas van 6-7%.”

Voorts het die minister gesê net 20% van Etosha is deeglik omhein.



NóG ''n CHINEES VAS

''n Chinese (36) man is Maandag omstreeks 09:45 op Katima Mulilo met ''n ietermago-vel in sy besit betrap.

Volgens ''n woordvoerder van die polisie, insp. Pendukeni Haikali, het die polisie hom vasgetrek nadat hulle inligting van die publiek ontvang en ''n sakeperseel op die dorp deursoek het. Die Chinees verskyn vandag in die hof.

Kommentaar

Republikein 2025-07-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer