'NEEEF sal vanjaar wet moet word'
'NEEEF sal vanjaar wet moet word'

'NEEEF sal vanjaar wet moet word'

Die staatshoof, president Hage Geingob, het gister gesê wetgewing moet dringend van krag word om die ongelyke inkomsteverdeling in die land reg te stel.
Denver Kisting
Denver Kisting - Swart Namibiërs gaan steeds weens die verlede onder ekonomiese ellende gebuk, sê president Hage Geingob.

As gevolg hiervan is dit noodsaaklik om regstellende ingrypings gedurende die oorblywende tydperk van die Harambee-welvaartsplan in werking te stel, sê die staatshoof.

President Geingob het gisteroggend lede van die kabinet by Staatshuis toegespreek voor die finale beraadslagingsbeen van die Nuwe Raamwerk vir Gelyke Ekonomiese Bemagtiging (NEEEF) afgeskop het.

Hy het 'n Wêreldbankstudie aangehaal wat bevind het Namibië bly een van die lande met die hoogste inkomste-ongelykhede ter wêreld.

Hoewel die land sedert onafhanklikwording in 1990 goeie vordering getoon het ten opsigte van die verlaging van armoede het inkomste-ongelykhede kwalik tydens dié tydperk afgeneem, sê hy.



16% maak staat op maatskaplike toelaes

Volgens die Nasionale Statistiekagentskap (NSA) steun nagenoeg 16% van die Namibiese bevolking op maatskaplike toelaes en volgens president Geingob is N$6,7 miljard in die 2017-'18-begroting vir die bestuur van sodanige veiligheidsnette bewillig.

“Ons is trots daarop dat ons vir ons mees weerlose burgers voorsiening kan maak deur maatskaplike toelaes. Maar ons kan nie 'n vooruitstrewende nasie rondom daardie model bou nie. Ons móét die onderliggende strukturele struikelblokke aanspreek wat dit moeilik, indien nie onmoontlik, maak vir Namibiërs om aan die ekonomie deel te neem en aan welvaart­skeppingsgeleenthede deel te neem.”

Die grondkwelpunt, wat deur die land se unieke politieke geskiedenis vererger word, laat 'n skewe ­inkomsteverdeling toeneem, het hy gesê.

“Dit is 'n ongelukkige werklikheid en daaglikse ervaring – swart Namibiërs dra die swaarste las van hierdie donker tydperk van ons geskiedenis.”

President Geingob het gesê dit is onrusbarend dat daar beweer word NEEEF teiken net 'n spesifieke gedeelte van die bevolking, die land se ekonomiese mededingendheid raak en dat die regering nie die grond- en gepaardgaande ongelykheidskwessies in 'n ernstige lig beskou nie.

Die regering se vraag aan diegene wat hul pogings in twyfel trek, is wat húlle bydrae is, sê Geingob.

“Dis tragies dat die antwoord baie dikwels 'n oorverdowende stilte is.”



Ontleder reageer

Mnr. Gerrit van Rooyen, 'n ontleder by NKC African Economics in die Paarl in die Wes-Kaap in Suid-Afrika, het gistermiddag gesê hoewel die uitgebreide beraadslagingsproses lof verdien, moet die regering dringend die wetsontwerp in werking stel.

­Dít “om 'n einde te bring aan die ­voortslepende beleidonsekerheid” – iets wat 'n ekonomie wat deur resessies gekenmerk word volgens hom nie kan bekostig nie.

Van Rooyen het gemaan 'n ekonomiese bemagtigingsbeleid soos NEEEF kan net 'n deel uitmaak van ekonomiese transformasie en nie die hoofdryfveer wees nie. Volgens hom is die hoof- strukturele probleem van Namibië se ongelykheid dat die grootste groep van die voorheen benadeelde bevolking nie oor die nodige vaardighede of kapitaal beskik om hul ekonomiese omstandighede te verbeter nie. Dr. Tapiwa Warindwa, 'n regsdosent verbonde aan die Universiteit van Namibië (Unam), wat vertroud is met beleid, het gister gesê: “President Hage Geingob het daarin geslaag om die bul by die horings te pak. Dit het tyd geword dat Afrika-lande beleid en wette deurvoer wat neoliberale ekomoniese beleid regstel. NEEEF is 'n stap om Namibië se ekonomie te dekolonialiseer om volhoubare ontwikkeling te verwesenlik.”

Kommentaar

Republikein 2026-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer