NEEEF, grondhervorming kom

Pres. Hage Geingob het tydens Namibië se 27ste onafhanklikheidsvieringe gemaan teen verdelende invloede en ‘n nuwe gesprek oor grondhervorming gevra.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Grondwetlike bepalings oor grondhervorming moet volgens pres. Hage Geingob hersien word.

Hy het onder meer op die regering se verbintenis om grondhervorming te laat slaag gewys tydens gister se amptelike herdenking van Namibië se 27 jaar van onafhanklikheid op Rundu.

“Ons moet die konsep van gewillige verkoper/vrywillige koper hersien wat ons aanvaar het om aan die bepalings van Resolusie 435 (van die Verenigde Nasies, wat tot Namibië se onafhanklikwording gelei het) te voldoen.

“Ons het hierdie konsep ná 27 jaar uitgeput. Die proses is stadig en verwesenlik nie die wense van die meerderheid Namibiërs nie.

“Dit beteken ons moet teruggaan na ons Grondwet, wat voorsiening maak vir die onteiening van grond vir regverdige vergoeding, en ook kyk na buitelandse grondeienaarskap, veral van afwesige grondeienaars.

“As ons tot verdere ekonomiese groei en die handhawing van vrede verbind is, moet ons oop wees vir nuwe benaderings.

“Wat voorvaderlike grond betref, verwelkom ons voorstelle van alle betrokke Namibiërs sodat ons nasionale konsensus kan bereik om die grondprobleem die hoof te bied.

“Die San-mense word oënskynlik altyd uit besprekings oor grond gelaat, maar meer as enige ander groep Namibiërs het hulle meer reg op ‘n groot proporsie van die land se grond,” het Geingob bygevoeg.

“Kom ons staan saam en vat hande om die grondkwessie op te los,” het hy gevra.

Regressiewe magte wat voorspraak gemaak het dat Namibiërs onafhanklikheidsvieringe moet boikot, is deur Geingob verwerp.

“Hoe kan ‘n mens jou eie prestasies boikot? Hoe kan ‘n mens nasionale versoening boikot?” het Geingob gevra.

Hy het daarop gewys dat ondanks vele prestasies Namibië nog groot uitdagings beleef, maar dat die vrede en stabiliteit wat die land geniet, waardeer moet word.

Hy sê die nasionale eenheid wat die land geniet is ‘n bydraende faktor tot vrede.

“Ons moet versigtig wees vir afbrekende magte wie se voorneme dit is om dit wat ons oor baie jare met bloed, sweet en trane opgebou het, af te breek. Dit is maklik om te vernietig, maar moeilik om op te bou,” het Geingob gewaarsku.

Hy sê dit verbaas hom dat daar Namibiërs is wat daarop uit is om te sien dat die regering misluk en die land rampspoed toewens.

Hy sê die probleme wat die land ondervind en strukturele wanbalanse is geërf en nie die huidige regering se skuld nie. Ten einde inkomste-ongelykheid die hoof te bied het die regering verskeie planne gehad, waaronder Visie 2030, nasionale ontwikkelingsplanne en die Harambee-plan vir welvaart.

Ten einde oplossings vir armoede te vind, is besluit om die nasie by ‘n openbare dialoog oor die verdeling van welvaart te betrek.

“Die uiteinde van hierdie dialoog sal ‘n bloudruk wees hoe om armoede teen 2025 in Namibië uit te wis. Aspekte van hierdie bloudruk is in die Harambee-plan geïnkorporeer.

“Die Nuwe Raamwerk vir Gelyke Ekonomiese Bemagtiging (NEEEF) is ‘n program wat ons van voorneme is om te implementeer. Dit sal met voorwaardes rakende regeringstenders gepaard gaan. Sommige mense is teen NEEEF gekant sonder om met alternatiewe voorstelle vorendag te kom. Dit is egter tyd dat almal van ons in Namibië ‘n kultuur van mededeelsaamheid aanvaar en mekaar bystaan om menslike waardigheid te vind,” het Geingob gesê.

Hy sê in ‘n vrye samelewing het mense die reg om vrylik rond te beweeg en te bly waar hulle wil en soms doen hulle dit tot hul eie nadeel. Hy het verwys na mense wat hulle in vloedvlaktes vestig en die gevaar loop om te verdrink. Eweneens is daar mense wat gelok word deur die blink liggies van die stad en dan informele nedersettings in ongeproklameerde gebiede oprig, waar geen munisipale dienste bestaan nie.

“Die uitdaging is om daardie blink ligte na die streke te neem en vinnige verstedeliking, wat tot ‘n toename in stedelike honger en armoede lei, aan bande te lê."

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer