Neckartal nou op 102,3%

Elvira Hattingh
Die Neckartaldam, wat sedert gistermiddag oorloop, was om 08:00 vandag 102,3% vol. Terselfdertyd het water dit nog steeds teen 257,9 m³ per sekonde binne gestroom.

Die dam (met ‘n kapasiteit van 857,000 miljoen kubieke meter of Mm³), het tussen vanoggend en gister om 08:00 altesaam 27,660 Mm³ water ontvang.

Die Nautedam (83,580 Mm³) is tans ook 102% vol, terwyl die Hardapdam (294,593 Mm³) om 08:00 op 72,2% gestaan het. Laasgenoemde dam se sluise is gister (Maandag) om 00:00 weer gesluit, maar die dam ontvang steeds sowat 38,2 m³ per sekonde. Beide die Hardap- en Nautedam se sluise is die afgelope week getrek.

Al sewe die damme in die Suide het die afgelope week water ingekry, met die Neckartaldam wat bietjie meer as ‘n week vantevore nog net 92,5% vol was. Verlede jaar die tyd was dit ook 100,3% vol.

Die Oanobdam (34,505 Mm³) het gister 76,6% water bevat, met die Dreihukdam (15,493 Mm³) en die Bondelsdam (1,103 Mm³) wat onderskeidelik 18,1% en 4,7% water oor gehad het.

Die Swakoppoortdam (63,489 Mm³) het sedert verlede Maandag 2,799 Mm³ water ingekry en van 74,9% vol na 79,3% gelig. Die Von Bachdam (47,525 Mm³) is nou 0,2% voller en het gister op 46,7% gestaan. Die Omatakodam (43,499 Mm³) is 39,1% vol, terwyl van sy water na die Von Bachdam oorgeplaas is.

Damme in die sentrale dele van die land is dus gemiddeld nou 58% vol.

Gobabis-damme het die afgelope Maandag gemiddeld 26,5% water bevat. Die Daan Viljoendam (0,429 Mm³) is die volste en hou tans 48% water, gevolg deur die Tilda Viljoendam (1,224 Mm³) wat nog 43,4% water bevat.

Die Otjivero-hoofdam (9,808 Mm³) is nou 41,2% vol, terwyl die Ojtivero-slikdam (7,795 Mm³) tans 4,1% water bevat. Die Otjivero-hoofdam het ook 0,019 Mm³ water oor die afgelope week bygekry en met 0,2% gestyg.

Die Frienendam (6,723 Mm³) is nou 87,4% vol nadat dit oor die afgelope week 0,719 Mm³ water ontvang het. Die Goreangabdam (3,621 Mm³) is 100,8% vol.

FOTO'S ARGIEF

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer