Neckartal markeer pas oor N$600 miljoen

Bouwerk aan die Neckartaldam het feitlik tot stilstand geruk terwyl die regering rondskarrel vir N$600 miljoen om sy skuld te betaal.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - ’n Spesiale taakspan wat verlede week saamgestel is, sal vanmiddag aan die kabinetskomitee op tesourie voorstelle maak oor waar om die N$600 miljoen te vind om Salini Impregilo vir die afgelope drie maande se bouwerk aan die Neckartaldam te betaal.

Een van die moontlikhede is om te kyk of geld uit die ministerie van landbou, water en bosbou se begroting hertoegewys kan word.

Die ander plan is om die dam op die balansstaat van NamWater te plaas sodat dié staatsonderneming met ’n regeringswaarborg kan gaan geld leen om die skuld te betaal.

Mnr. John Mutorwa, minister van landbou, water en bosbou, sê een ding is ’n uitgemaakte maak: Die regering gaan nie die bouwerk laat vaar nie en sal sy skuld betaal.

Hoe lank Salini nog vir die betaling gaan wag, sal afhang van hoe vinnig die N$600 miljoen gevind kan word, sê hy.

“Die dam is 90 persent klaar gebou. Ek het die bouterrein Vrydag besoek en is baie beïndruk met die werk. Hierdie projek gaan die Suide transformeer. Die pypleidings na die 5 000 ha-besproeiingsgrond is reeds aangelê,” het hy gister by navraag vertel.

“Dit is werklik mooi grond en aangesien net klein werkies nog uitstaande is, kan dit regering nie in hierdie laat stadium die projek laat vaar nie.”

Die N$600 miljoen wat die regering nou naarstigtelik moet vind, is om vir die uitstaande fakture van Junie, Julie en Augustus te betaal. Daarbenewens is ook nie begroot vir die 10 persent van die bouwerk wat nog voltooi moet word.

Volgens mnr. Günter Leicher, besturende direkteur van Knight Piésold Namibia wat die regering se konsultante op die projek is, behoort dit teen April aanstaande jaar voltooi te wees.

Die aanvanklike datum vir voltooiing was Desember 2017, maar weens die wanbetaling het Salini intussen aankondig dat hy vir eers die pas markeer met konstruksiewerk wat feitlik heeltemal tot stilstand gekom het.

Nampa berig mnr. Fabrizio Lazzarin, projekbestuurder van Salini, het Vrydag aan Mutorwa gesê die werkers wat huis toe gestuur is, sal ’n basiese salaris sonder enige ander voordele ontvang.

Mnr. Calle Schlettwein, minister van finansies, het vroeër aan Republikein gesê N$3,4 miljard se betalings is sedert die aanvang van die projek al gemaak – dít terwyl die dam veronderstel was om die land N$2,8 miljard te kos.

Hy wou nie kommentaar lewer op inligting van ’n bron na aan die projek wat aanvoer die dam gaan Namibië uiteindelik digby N$5 miljard kos nie.

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer