'Neckartal maak nie ekonomies sin'
'Neckartal maak nie ekonomies sin'

'Neckartal maak nie ekonomies sin'

'n Verslag in 2001 het die regering gewaarsku die Neckartal­dam maak nie ekonomies sin nie; sedertdien het die boukoste byna verdubbel.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - 'n Verslag in 2011 deur 'n span kundiges het die rooi vlag oor die Neckartaldam-projek gehys “aangesien die ekonomiese opbrengs op dié reusebelegging nie sin maak nie”.

Die beoogde besproeiingskema by die byna voltooide Neckartaldam gaan volgens hulle hoogs gespesialiseerde kundigheid en groot kapitale­ beleggings verg om suksesvol hoë­waardegewasse vir die buitelandse mark te produseer.

Mnr. John Pallett van die Southern­ African Institute for Environmental Assessment (SAIEA) wat die verslag saamgestel het, sê waarskuwings destyds oor die min ekonomiese voordele wat die dam gaan inhou, “het op dowe ore geval”.

Die aanvanklike kosteberaming was N$3,02 miljard vir beide die kon­trakteur, Salini Impregilo, en die ingenieurskonsultant, Knight Piésold. Volgens mnr. Percy Misika, permanente sekretaris van landbou, water en bosbou, het die koste intussen tot meer as N$5,7 miljard opgeskiet.

Dié verslag, waarvan Republikein 'n afskrif het, was die gevolg van 'n strategiese, ekonomiese ondersoek wat gedoen is vir die opstel van 'n geïntegreerde grondbenuttingsplan vir die //Kharasstreek. Dit is in opdrag van die ministeries van grondhervorming en die omgewing en toerisme gedoen, en die Duitse Vereniging vir Internasionale Samewerking (GIZ) het die ondersoek gefinansier.

Daarin is gewaarsku “al voordeel vir die plaaslike gemeenskap is die indiensneming van ongeskoolde werkers, met 'n geskatte 2 600 permanente­ en 10 000 seisoenale werksgeleenthede”.

Pallett sê die bevindinge is destyds ook aan 'n kabinetskomitee voorgelê.

“Ons het daarop gewys dat die Naute­dam (ook by Keetmanshoop) se volle kapasiteit nie eens benut word nie.”

Mnr. Eric van Zyl, hoof van navorsing by IJG Securities, het by navraag aan Republikein gesê die verdubbeling van die projekkoste “verskraal die ekonomiese lewensvatbaarheid aansienlik”.

“Suiwer vanuit 'n finansiële oogpunt twyfel ek of Neckartal op medium termyn (3 – 10 jaar) sin maak sover dit die opbrengs op die belegging betref.”

Rooi vlag

In die 2011-verslag word aangehaal uit die ministerie van landbou, water en bosbou se bestuursplan vir waterhulpbronne (IWRM) wat die fokus op die ontwikkeling van nuwe bronne pleks van die bestuur van bestaande bronne kritiseer.

“Dié benadering lei tot die ongekoör­dineerde ontwikkeling en bestuur van bronne, en die voorgestelde Neckartaldam is 'n voorbeeld hiervan,” is destyds aangevoer.

“Dit gaan aansienlik minder ekonomiese voordele vir die mense van die //Kharasstreek inhou as wat voorgehou word. Dit druis in teen die beginsels van Visie 2030, NDP3 en die IWRM, en is onvolhoubaar. Vandaar die rooi vlag,” lui die verslag.

Van Zyl sê 'n projek soos die Neckartaldam se voordele moet oor 'n veel langer tydperk as die medium termyn bereken word. “Dit sal vir geslagte vorentoe besproeiingsgrond beskikbaar maak en kan, as dit reg bestuur word, op lang termyn ekonomiese voordele inhou.”

Hy sê daar moet egter in ag geneem word dat toe die kontrak toegeken is, het die Namibiese ekonomie goed presteer. “Toe kon 'n mens nog 'n sterk saak daarvoor uitmaak. Die toename in koste het egter die voordele baie verskraal.”

Wat meer is, is die stygende koste wat tans verdere druk op die regering se finansies plaas, sê Van Zyl.

Volgens Misika het die regering reeds N$3,121 miljard betaal en kom hy nog N$2,6 miljard kort.

NamWater het in September N$200 miljoen vir die regering voorgeskiet en sal vir 'n verdere N$400 miljoen pa staan.

Die ministerie het N$155 miljoen tot die betaling van die agterstallige skuld bygedra en 'n verdere N$1,374 miljard sal verskaf word deur die Infrastruktuurfonds wat tans deur die ministerie van finansies geskep word.

Misiki het tydens 'n mediakonferensie twee weke gelede gesê vir die oorblywende tekort van N$500 miljoen sal sy ministerie in die volgende twee boekjare tot 2020 begroot.

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer