Ndeitunga op oorlogspad
Lt.genl. Sebastian Ndeitunga soek nie net 'n doeltreffende polisiemag met integriteit nie, maar ook een wat etnies verteenwoordigend van Namibië is.
Tanja Bause
Hy is slaggereed om van lui en korrupte beamptes ontslae te raak en die Namibiese polisie “skoon te maak”.
Só het lt.genl. Sebastiaan Ndeitunga, hoof van die Namibiese polisie, Vrydag tydens die toekenning van nuwe portefeuljes aan 52 lede van die mag gedreig. “Ék het julle aangestel en ék sal julle ontslaan,” het hy gesê.
“As ek hóór van iemand wat ek pas bevorder het wat nou lui is, sal ek hom of haar onmiddellik met drie range afgradeer. Lui en korrupte polisiebeamptes is 'n verleentheid vir my en die hele mag. Diegene wat die mag in die verleentheid steek, sal ek ontslaan,” het Ndeitunga gesê. Dit geld ook vir beamptes wat steel of polisiedossiere laat wegraak.
Diegene wat bevorder is, kan nie nou terugsit en dink hulle is “base” nie, het die polisiehoof gewaarsku. “Die kantore waarin julle sit, is nie julle s'n nie. Dit behoort aan die publiek wat jul salarisse betaal. So, wees vriendelik met lede van die gemeenskap en help hulle waar nodig.”
Die onlangse ontsnapping van misdadigers uit polisieaanhouding op Oshakati het hom baie omgekrap, het Ndeitunga gesê. Sou ontsnappings in die toekoms plaasvind, sal hy konstabels, stasiebevelvoerders en streekbevelvoerders persoonlik voor stok kry.
“As daar nie behoorlik toesig gehou word nie, is daar geen beheer nie. 'n Gebrek aan dissipline sluip in en pligte word versuim.”
Verskeidenheid
Volgens Ndeitunga is die jongste skuiwe en bevorderings, wat op 1 April van krag geword het, gedoen om geslagsgelykheid en etniese gelykheid en verskeidenheid in die mag te bevorder.
“Kyk by voorbeeld na vanoggend se parade. Ek sien geen wit gesigte nie. Ons kon so 'n mooi Namibiese parade gehad het as daar 'n verskeidenheid van kleure was,” het hy gesê. Hy het 'n beroep op wit ouers en families gedoen om hul kinders aan te moedig om by die Namibiese polisie aan te sluit.
“Kyk na 'n tuin: Die blomme is baie mooi, maar hulle het verskillende kleure. Ek wil nie weer 'n parade sien wat nie alle kleure van die land verteenwoordig nie.”
Swaar tye
Die polisie, soos die res van Namibië en die wêreld, word ook deur die sukkelende ekonomie geraak, het die polisiehoof gesê.
“Geld vir die aanskaffing van petrol is byvoorbeeld van N$110 miljoen tot N$20 miljoen gesny. Dit beteken as ons nie improviseer nie, sal polisievoertuie binnekort geparkeer staan. Dus is dit nodig dat ons streng beheermaatreëls moet instel wat streng toegepas moet word.”
Weens die geldknyp is dit moeilik om die behuisings- en kantoortekort vir beamptes te takel. Kapitaalprojekte kan nie geïmplementeer word nie, soos onder meer die konstruksie van polisiehoofkwartiere in die Kavango-Wes-, Khomas- en Kunenestreek. Dit sluit ook die bou van nuwe polisiekantore in onder meer die Babylon informele nedersetting in Windhoek, Noordoewer, Nkurenkuru en in Kuisebmund op Walvisbaai in.
Ndeitunga het die publiek op die vingers getik omdat misdaad nie vroegtydig by die polisie aangemeld word nie.
“Julle bly langs 'n man wat sy vrou slaan, maar julle bly stil. Bel die polisie sodat ons kan optree voordat dit te laat is en sy nóg 'n statistiek van geslagsgeweld word. Julle bly langs 'n huis waar daar dwelms verkoop word en niemand lig die polisie in nie. Julle, die gemeenskap, is bewus van sulke oortredings, maar julle wil nie betrokke raak nie en bly stil totdat dit te laat is. Dan huil en kla almal.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie