Ndeitunga kap aanlyn trolle
Ndeitunga kap aanlyn trolle

Ndeitunga kap aanlyn trolle

Volgens die polisiehoë is daar geen artikel in die Grondwet wat Namibiërs die reg gee om iemand te verneder nie.
Ileni Nandjato
Ileni Nandjato – Lt.genl. Sebastian Ndeitunga, inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, het “die jonges” gewaarsku wat nasionale leiers beledig, asook polisiebeamptes wat politieke kandidate bevorder, daar sal met hulle afgereken word.

Ndeitunga het ’n beroep op plaaslike polisiebevelvoerders gedoen om ongedissiplineerde jongmense in hul streke tot orde te roep, of self oor die kole gehaal te word.

Hy sê die polisie moet die jongmense vasvat wat nasionale leiers in die sosiale media beledig, want “genoeg is genoeg”.

Dié opmerkings is Vrydag tydens die opening van die Oshana-polisie se hoofkantoor op Oshakati gemaak.

“Die leiers wat die publiek gekies het, word beledig en verneder deur die jongmense wat juis deur húlle bevry is.

“Pleks daarvan dat hulle die vryheid van spraak wat hulle gekry het op verantwoordelike wyse geniet, beledig hulle die oueres op WhatsApp. Ons weet van hulle, en daar sal met hulle afgereken word,” het Ndeitunga gesê.

“Julle kan kla, kritiseer, en aandring op behoorlike en doeltreffende dienste by dié wat julle verkies het, maar daar is geen artikel in die Grondwet wat julle die reg gee om iemand te verneder nie. Volgens ons Grondwet moet almal mekaar se waardigheid respekteer. Ons leiers moet met respek behandel word.”

By dieselfde geleentheid het Ndeitunga polisiebeamptes gewaarsku wat aan politieke aktiwiteite deelneem, asook diegene wat misdadigers help.

“Hiermee waarsku ek polisiebeamptes wat politici word of hulself in die openbaar aan politici verbind. Dit is teen die Namibiese polisie se gedragskode. Geen polisiebeampte mag aktief betrokke by politieke aktiwiteite wees nie. Sommiges steel selfs dokumente om inligting aan buitestanders te verskaf. As jy ’n politikus wil word, soos ’n onafhanklike kandidaat, moet jy die polisiemag verlaat.”

Volgens Ndeitunga is die multimiljoendollar polisiehoofkantoor op Oshakati ’n openbare kantoor, en van dié wat daaruit gaan werk, word verwag om as staatsamptenare op te tree, en nie as mense wat dink hulle besit die kantoor nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer