Naweek van vreemde uitklophoue

Boks
Michael Green – Luis Ortiz was nie die enigste swaargewigbokser wat die afgelope naweek die tonge met ’n aardige uitklophou laat klap het nie.
Die groot Kubaan het in Los Angeles sy geveg teen Alexander Flores met ’n wrede lyfhou binne die eerste minuut van die eerste ronde beëindig.
Flores het agterna aan Fox Sports vertel dat sy een oog teen Ortiz se voorarm gekap het terwyl die Kubaan sy lyf met ’n regterhou aangeval het.
Alles het glo toe net voor Flores swart geword en hy het gevoel hoe sy een been lam word.
• Die Chinese swaargewig Zhilei Zhang het in Hollywood vir Devin Vargas in die vierde ronde platgeslaan.
Vargas het ongemaklik geval en hoewel hy nie heeltemal uitgeslaan is nie, kon hy nie opstaan nie omdat sy een knie seergekry het.
Ortiz en Zhang mik albei na ’n titelgeveg teen Anthony Joshua.
Joshua het in 2012 die goue medalje op die Olimpiese Spele verower toe hy Zhang in die eindstryd verslaan het.
• In nog ’n geveg Saterdag op dieselfde toernooi in Hollywood, het Devin Haney sy liggewigtitel van die Wêreldboksraad suksesvol verdedig toe hy Yuriorkis Gamboa maklik met punte oor 12 rondes verslaan het. – Netwerk24

KYK: Ortiz tn Flores hoogtepunte
https://youtu.be/5Owc8umC5Zs

KYK: Zhang tn Vargas hoogtepunte
https://youtu.be/XPieXXGt61s

FOTO’S
Die Chinese swaargewig Zhilei Zang stap weg nadat hy Devin Vargas planke toe gestuur het in hul swaargewiggeveg in Hollywood. Foto Matchroom

Luis Ortiz van Kuba trek los met sy regterlyfhou wat vir Alexander Flores die einde meegebring het. Foto boxing247

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer