Natuur maak lig op Lüderitz

Drie nuwe windturbines opgerig
Augetto Graig
Augetto Graig - Die Lüderitz Windkrag Demonstrasieprojek het onlangs sy tweede fase ingelui toe drie nuwe 18 m hoë windturbines van die Suid-Afrikaanse maatskappy Kestrel buite die dorp opgerig is.
Met elkeen se drie 2 m lemme, kan elke turbine tot 3,5 kW opwek en krag wat nou reeds opgewek word, voorsien elektrisiteit aan die nabygeleë Valombola kleuterskool en aan van die opslaanhuisies om Area Sewe.
Volgens die projekkoördineerder, mnr. Asser Ndakoloukoshi Mukapuli, volg die jongste ontwikkeling op die eerste fase van die projek wat reeds in 2006 twee kleiner turbines op die dorp behels. Dit het toe omtrent N$600 000 gekos. Die eerste twee turbines het 800 Watt elk opgewek waarvoor een krag aan die dorpsraad en die ander een krag aan die Sekondêre Skool Lüderitz voorsien het.
“Ons werk saam met die Universiteit van Namibië (Unam) om die dorp se inwoners bewus te maak van windkrag, vandaar die demonstrasies,” het Mukapuli gesê op die winderige koppie naby die plakkerskamp waar die nuwe drie turbines nou staan.
Die gebied is vir nywerheidsontwikkeling afgebaken, maar gesluit ’n hoërliggende stuk grond uit wat in die toekoms ’n windkragplaas sal bevat.
Saam met die projek se sekretarisse, me. Aina Petrus, en die tegniese koördineerder, mnr. Gordon Negongo, hoop Mukapuli hulle sal die nodige geld kry om die derde fase aan te pak, wat dan tot 5 mW aan die dorp se inwoners beskikbaar sal stel.
“Die hoofdoel was eers hierdie demonstrasie, daarna volg navorsing en uiteindelik die opgradering van tegnologie,” het Mukapuli gesê. “Ons wil werk skep en armoede verlig deur krag aan klein besighede te lewer, soos byvoorbeeld om naaimasjiene vir ’n klerenywerheid van krag te voorsien. Ons moet onsself bemagtig en mense oplei wat op hul beurt weer ander touwys kan maak. Ons werk dus saam met Unam se navorsingsafdeling met die hoop dat Namibië eendag ’n leier op die gebied van navorsing en ontwikkeling van hernubare energie sal wees,” het hy gesê.
Op sy beurt het prof. Hina Muaskekele van die universiteit gesê die nuwe turbines is opgerig ná ’n lang wagtydperk sedert dit in Junie verlede jaar reeds bestel is. “Maar nou is dit hier en navorsing en ontwikkeling kan in alle erns begin. Ons moes ook die regte produk vir hierdie omgewing aanskaf, want hier heers ’n kolkende soort wind,” het hy gesê.
Volgens Muaskekele gaan baie van die navorsing oor die turbines se werkverrigting om kraguitsette te vermeerder. Vir eers word ’n prototipe ontwikkel wat vir ten minste ’n jaar lank simulasietoetse sal ondergaan waarna nog ’n jaar volg vir vervaardiging van ’n eie turbine. Hy hoop die universiteit se departement van ingenieurswese sal ’n werkswinkel en laboratorium op die perseel oprig om dié werk te hanteer.
“Die munisipaliteit wil graag windkragopwekkers hier sien wat as ’n demonstrasie kan dien, met die hoop om bekostigbare krag te voorsien. Maar ons finansiering kom van die Finse regering en as daardie bron opdroog, sal ons graag wou hê die gemeenskap gaan self met die projek voort. Een gedagte is om windkrag aan die plaaslike sakegemeenskap te verkoop.”
Hy het gesê die universiteit se elektriese- en meganiese ingenieurstudente stel veral belang in die navorsing en produkontwikkeling.
Mnr. Pineas Thomas is die meganiese ingenieur vir hernubare energienavorsing by die projek en sê dit is werklik iets spesiaals. Hy sê die wind op Lüderitz waai aaneen en dus draai die lemme aanhoudend, selfs in die nag.
“Ten opsigte van die konstante verandering in windrigting, het ons die tegnologie om daarvoor voorsiening te maak. Ons turbines volg die wind, maar al die gedraaiery kan dit ook beskadig. Dus het ons versterkte lemme gebruik. Dit is baie doeltreffende toerusting wat windenergie vasvang en dit in elektriese energie omskep. Ons wil egter meer doeltreffende produkte ontwikkel wat kraguitsette sal verbeter,” het hy gesê.
In die huisie wat die kontrolesentrum huisves, is ’n volt-beperker en ’n stroombreker asook ’n geprogrammeerde kontroleerder om die lading na ses en dertig 12V batterye te beperk.
Opsommend beteken die stelsel dat “as die wind op Lüderitz waai, is daar lig,” het Thomas afgesluit.

Kommentaar

Republikein 2026-07-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer