Nasionale truie vir De Lange, Vorster

'n Skerp afname is in die getalle ryers laas naweek gesien.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Onrusbarende klein getalle inskrywings het meegebring dat Sondagoggend se Nedbank nasionale veldresies bergfietskampioenskap se wenners in redelike mate voorspelbaar was.

Die Matie-student Tristan de Lange het vanaf die eerste ronde die voortou in die elite mansresies geneem en het dit enduit behou, om die aanslag van Xavier Papo (tweede) en Martin Freyer van die Universiteit van Kaapstad af te weer.

Dit was De Lange se eerste nasionale elite-kroon. Nadat hy twee jaar gelede die Namibiese o.23-kampioen was, is hy verlede jaar deur Papo en Freyer geklop en moes met die derde plek tevrede wees.

By die vroue was Michelle Vorster ook ondanks 'n pap wiel in 'n resies op haar eie, los voor Irene Steyn en die enigste o.23-inskrying, Steffanie Grossmann.

Luanne van der Schyff van Swakopmund het halfpad deur haar tweede baanrondte haar bewusteloos geval en is nadat sy haar bewussyn herwin het, per ambulans na 'n hospitaal geneem.

Die aanduiding agterna is dat sy met harsingskudding vir 'n paar weke buite aksie sal wees.

Haar ongeluk is opnuut voorgehou as 'n herinnering aan fietsryers van alle ouderdomme om ten alle tye valhelms te dra, selfs voor en ná hul resiese. Die baan by IJG Trials in Kleine Kuppe staan bekend dat dit deelnemers in bergfietsry se veldresies (cross country) sodanig beproef dat uitblinkers met vertroue gekies kan word om die uitdagende bane oorsee te gaan takel.

Waarnemers reken die moeilikheidsgraad is egter nie op sigself die volle rede hoekom vanjaar se deelname so 'n skerp afname getoon het nie. By elke tegniese hindernis, soos spronge, kon minder gesoute ryers ook van 'n ompaadjie gebruik maak. Daar was heelwat klimwerk en min ruskans teen die vinnige afdraande af.

Terwyl byeenkomste oor marathon-afstande, dikwels aangebied op lodges oral in die land, deelnemers in hul honderde laat inskryf, bly waarnemers in die sport ietwat dronkgeslaan oor die afwesigheid van die getroue groep jaers van elke naweek. Laas Sondag was die veteraanmans (10) die enigste kategorie waar die inskrywings dubbelsyfers gehaal het.

Die naweek se fratsweer, met 'n ligte reënbui Saterdagnag iets ongewoons in Juliemaand, en 'n koue oggend het moontlik ook hier en daar 'n potensiële ryer afgeskrik.



GROTER UITDAGINGS

Tydens die prysuitdelings is die Namibiese truie aan die nasionale kampioene in die UCI-kategorieë oorhandig. Die ontvangers was De Lange (elite mans), Vorster (elite vroue), Marcel Holtz (o.23 mans), Steffanie Grossmann (o.23 vroue) en Schalk van der Merwe (junior mans).

Die land se topryers insluitend De Lange en Vorster se volgende groot mikpunt is om gedurende September 'n goeie aanslag op die wêreldkampioenskap in Lenzerheide, Switserland van stapel te stuur.

Die nasionale afrigter, Hans du Toit, en die verkose ryers beoog om tydens dieselfde reis ook aan die voorafgaande naweek se Switserse Beker-byeenkoms deel te neem.

“Die Switserse Beker is ewe groot as die wêreldkampioenskap en ryers kan goeie punte op die UCI-wêreldranglys verdien. Ons praat van bergfietsry – enigiets kan skeefloop en daarom is dit beter om oor die duur van twee byeenkomste 'n beter prentjie te kry van waar ons staan,” sê Du Toit.

Du Toit sou gister saam met Alex Miller, die 2018 junior Afrika-kampioen, Charl du Plooy, Dieter Koen en Schalk van der Merwe na Algiers vertrek waar die Afrika Jeugspele dié week begin. Miller het die afgelope dae siek geword en was om dié rede ook afwesig van die nasionale veldresieskampioenskap.



Laas naweek se voorste uitslae was soos volg:

ELITE MANS (vyf rondes)

1 Tristan de Lange 1:28:07

2 Xavier Papo 1:30:09

3 Martin Freyer 1:33:59

4 Danzel de Koe 1:42:40

5 Jo Joe Hamunyela 1:30:51 (vier rondes)

ONDER 23 MANS (vyf rondes)

1 Marcel Holtz 1:38:38

2 Joshua Scherer 1:41:37

3 Nicolaas Swart 1:43:56

ELITE VROUE (vier rondes)

1 Michelle Vorster 1:15:41

2 Irene Steyn 1:29:21

Luanne van der Schyff DNF

JUNIOR MANS (4 rondes)

1 Schalk van der Merwe 1:20:50

2 Dieter Koen 1:26:37

4 Leonard Schmidt 1:36:25

ONDER 23 VROUE (3 rondes)

1 Steffanie Grossmann 1:20:56

SUBVETERAAN MANS (drie rondes)

1 Christo Swartz 0:55:00

2 Heiko Diehl 0:58:30

3 Braam Vermeulen 0:58:56

SUBVETERAAN VROUE (twee rondes)

1 Hester Prins 0:54:40

2 Marion Schonecke 0:38:55

VETERAAN MANS (drie rondes)

1 Heino Windisch 0:54:14

2 Jacques Celliers 0:55:09

3 Hans du Toit 0:56:04

MEESTERS MANS (twee rondes)

1 Stefan Bohlke 0:39:02

2 Michael Lowe 0:44:01

3 Luke Pennefather 0:46:22

MEESTERS VROUE (een ronde)

1 Antje Tietz 0:35:32

2 Mandy Huysamen 0:35:32

GROOTMEESTERS MANS (twee rondes)

1 Roland Graf 1:01:11

2 Andreas Brueckner 0:46:27 (een ronde)

GROOTMEESTERS VROUE (een ronde)

1 Berrit Graf 0:35:17

ONDER 16 SEUNS (twee rondes)

1 Hugo Hahn 0:41:50

2 Bergran Jensen 0:44:32

3 Benjamin Coury 0:49:07

ONDER 16 MEISIES (twee rondes)

1 Monique du Plessis 0:44:28

ONDER 14 SEUNS (twee rondes)

1 Kevin Lowe 0:39:09

2 Rico Steinfurth 0:40:58

3 Adrian Key 0:44:25

ONDER 14 MEISIES (vier rondes)

1 Fiona Vorster 0:24:03

ONDER 12 SEUNS (vier rondes)

1 Roger Suren 0:20:08

2 Justis Beulker 0:20:23

ONDER 12 MEISIES (vier rondes)

1 Delsia Janse van Vuuren 0:17:07

2 Laura Engling 0:19:44

3 Key Katelyn 0:23:24

ONDER 10 SEUNS (drie rondes)

1 Nathan Chase 0:15:09

2 Marco Thiel 0:15:31

3 Sean Lowe 0:16:16

ONDER 10 MEISIES (twee rondes)

1 Rosemarie Thiel 0:14:35

ONDER 8 SEUNS (een ronde)

1 Micah Chase 0:06:19

ONDER 8 MEISIES (een ronde)

1 Nicole Suren 0:08:47

Kommentaar

Republikein 2025-07-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer