Nasionale Raad aanvaar beplanningswetsontwerp
'n Verreikende nuwe wetsontwerp vereis dat kopers se geld vas belê word tot projekte voltooi is.
Augetto Graig - Die Nasionale Raad (NR) het die nuwe wetsontwerp op stedelike en landelike ontwikkeling met aanpassings goedgekeur.
Die boubedryf is tot 8 Januarie met verlof, maar veral kleiner ontwikkelaars kan 'n onaangename verrassing kry as hulle volgende jaar terugkeer werk toe.
Die NR het verlede week dringend vergader om drie wetsontwerpe voor die einde van die jaar te bespreek. Dit sluit in die hersiening van die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling se beplanning- en goedkeuringsproses.
Veral artikel 72 van Wetsontwerp 13 van 2017 vereis dat betaling vir erwe en huise wat deel is van ontwikkelingsprojekte eers in 'n trustfonds belê word tot konstruksie voltooi is en die plaaslike owerheid of die minister dit in die Staatskoerant as 'n nedersetting geproklameer het.
Tot dan kan die fondse nie eers as aanvullend tot 'n lening gebruik word om bouwerk te finansier nie. Dié geld kan slegs beskikbaar gemaak word indien die eienaar van die ontwikkeling bankrot verklaar word of die ontwikkeling nie kan voltooi nie. In hierdie gevalle sal die geld weer aan kopers teruggegee word.
Volgens die wetsontwerp moet die ontwikkelaar ook die prokureurskostes vir die bestuur van die trustfonds dra. Die ontwikkelaar mag nie geld van kopers aanvaar voor die ontwikkeling nie voltooi en goedgekeur is nie. So nie is 'n boete van tot N$100 000, of tot 10 jaar tronkstraf van toepassing.
“Hoekom nou?” wou mnr. Jaco Beukes van Jimmey Construction weet toe Republikein hom oor dié verwikkeling nader. Hy wou ook weet hoekom rolspelers in die boubedryf nie hieroor geraadpleeg is nie. “Almal weet dit is die middel van bouers se vakansie,” het hy gesê.
Beukes het gesê ontwikkeling is 'n lang, duur proses en as daar intussen kopers gekry word om te help met die finansiering van projekte, maak dit die betrokke projekte meer lewensvatbaar.
Hy is besorgd daaroor dat die nuwe vereiste die verskaffing van grond nóg omslagtiger en duurder sal maak.
Volgens me. Margaret Mensah-Williams, voorsitter van die NR, was goedkeuring van die wetsontwerp dringend omdat die kwessie van die beskikbaarheid van stedelike grond aangespreek moet word.
“Ons kan dit nie tot Februarie uitstel wanneer die parlement open nie, ons moet die wet nou in werking stel,” het sy gesê.
Oor die moontlike impak van die vereiste trustfonds op kleiner boumaatskappye sê sy die ontwikkelingsbank en finansiële instansies behoort bouers te kan help as tenders eers bevestig is.
Nog 'n groot verandering wat die nuwe wet gaan meebring, is die vervanging van die huidige Namibië Beplanningsadviesraad (Nampab) en die nedersettingsraad met een stedelike en landelike beplanningsraad.
Mnr. Nghidinua Daniel, die ministerie se permanente sekretaris, sê deur die funksies van dié twee rade te kombineer, en ook deur die toewys van funksies aan bevoegde plaaslike owerhede, hoop die ministerie om tot 60% van die tyd wat benodig word vir goedkeuring te bespaar.
Daniel sê dit neem die sentrale regering tans tot ses maande of langer om ontwikkelings goed te keur. Indien infrastruktuur vinniger ontwikkel, kan plaaslike owerhede en munisipaliteite meer geld vir dienste insamel, sê hy.
Die nuwe wetsontwerp maak ook voorsiening vir die saamstel van 'n ontwikkelingsraamwerk vir die nasionale gebruik van ruimtes. Dit kan sowat 'n jaar en 'n half neem om saam te stel, maar sal uiteindelik die goedkeuring van planne vergemaklik wat daarmee ooreenstem.
Intussen sal die nuwe raad binne 'n maand of twee aangestel word en twee jaar gegun word om die huidige stelsel te vervang.
Die minister sal ook terselfdertyd munisipaliteite en plaaslike owerhede ondersoek en vir die status van goedgekeurde beplanningsowerhede oorweeg.
Plaaslike owerhede wat nie dié status het nie, sal toestemming vir ontwikkeling by die minister moet kry. Dit geld ook enige ontwikkeling wat nie onder 'n goedgekeurde plaaslike owerheid val nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie