Namibiu00ebr toets positief in VSA
Namibiu00ebr toets positief in VSA

Namibiër toets positief in VSA

Tanja Bause
Tanja Bause



Me. Rozane Badenhorst is 'n 28-jarige Namibiër wat in die ­Verenigde State van Amerika (VSA) positief vir Covid-19 getoets het.

Badenhorst is op Walvisbaai gebore en het op Karibib grootgeword.

Sy moes in Maart na Ontario in ­Kalifornië vir werk gaan en sou ­oorspronklik net een week daar spandeer het.

“Ek is die globale biologiebestuurder van AgriProtein Technologies en het na Ontario gekom om 'n perseel te besoek. Ek was op pad terug Suid-Afrika toe, waar ek gestationeer is, toe die wêreldwye hoktydperk in werking getree het. Ons het besluit dat ek in die VSA bly.

“My ander opsies was om terug Suid-Afrika toe te vlieg of België of Singapoer toe. Die VSA-kantoor was die beste opsie. Op die manier kon ek nog 'n bydra by die tak lewer,” het sy gesê.

Volgens Badenhorst was iemand op die werksperseel in kontak met 'n positiewe Covid-19-geval. Dit het tot gevolg gehad dat almal getoets moes word. Sy en twee kollegas het positief getoets. Hulle het onmiddellik in selfisolasie gegaan en die perseel is ontsmet.

“Toe ek my uitslae gekry het, het ek nie eers kans gehad om te dink nie. Kollegas het my gebel om seker te maak ek is oukei. Hulle wou seker maak ek het toegang tot inkopies en kos en dat ek weet wie om te skakel of weet wat om te doen as ek siek raak.

Die reaksie en omgee van die bestuur en kollegas was ongelooflik.”

“Ná die oproepe gestop het en ek weer kon dink, was my eerste gedagte dat my verjaardaguitstappie na die Grand Canyon nie meer sou plaasvind nie. Eintlik was ek rustig, want ek het verwag dat ek die virus sou kry weens die hoë aantal gevalle hier. Gelukkig is ek in die ­laerisiko-kategorie en ek weet as ek mooi na myself kyk, behoort ek gou gesond te word.”

“My grootste bekommernis was of ek my ouers in Namibië moet laat weet. Ek weet hulle sal baie ­bekommerd wees en hulle kan in elk geval niks doen nie. Ek het egter besluit om hulle te vertel.”

Volgens haar moet sy gereeld haar koors meet en haar simptome fyn dophou. Ná 14 dae word hulle weer getoets en as die toets negatief is, kan sy terug werk toe gaan.

“Iemand van ons departement van menslike hulpbronne kom loer gereeld in om seker te maak ek is ­gemaklik en gesond en dat ek niks benodig nie.”

Sy het haar 28ste verjaardag in ­isolasie gevier.

“Dit was glad nie so erg nie. Elke nou en dan het daar onverwags 'n pakkie van vriende en kollegas op my voorstoep beland. Ek is al so lank hier dat ek gewoond geraak het aan die virtuele kuiers.

“Die heimwee vang my natuurlik, maar ek weet ek moet vasbyt en ek kan enige tyd met my geliefdes op Zoom praat.”

Volgens haar is mense in Ontario baie rustig oor Covid-19. Almal dra maskers en gebruik gereeld handreinigers.

“Ons is 'n maatskappy wat wêreldwyd sake doen en almal voel anders oor Covid-19 afhangend van waar hulle bly of wat hulle lewensomstandighede is.

“Ek weet van 'n paar individue wat tydens selfisolasie sukkel, party vrees dat hulle hul werk gaan verloor en ander kyk net vorentoe en hou aan werk. Dit sal ook tot 'n einde kom en die grens sal weer oopmaak en ek sal weer huis toe kan kom.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer