Namibiu00ebr met Omicron: Kontakopsporing begin
Namibiu00ebr met Omicron: Kontakopsporing begin

Namibiër met Omicron: Kontakopsporing begin

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het reeds begin om die mense op te spoor met wie die Namibiese diplomaat wat Sondag in Japan positief getoets het vir Covid-19, kontak gehad het tydens sy besoek verlede week aan Namibië.

Die Japanse owerhede het gister bekend gemaak genoomontleding by die nasionale instituut vir aansteeklike siektes in dié land, het bevestig hy is met die nuwe Omicron-variant, wat die eerste keer in Suid-Afrika geïdentifiseer is, besmet.

Die man was saam met twee gesinslede in Namibië om ’n begrafnis by te woon, het amb. Penda Naanda, uitvoerende direkteur van die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking (Mirco), by navraag gesê.

“Hy het aan Mirco ’n lys verskaf van al die mense met wie hy in Namibië in kontak was, en dit is aan die gesondheidsministerie gegee om dié mense op te spoor,” sê hy.

Volgens Naanda is die man en sy gesin met hul aankoms op die Narita-lughawe in Tokio vir Covid-19 getoets. Hy is in sy vroeë dertigs.

“Hulle is daarna toegelaat om na hulle blyplek in Tokio te gaan. Op pad daarheen het hulle ’n oproep van die Japanse gesondheidsowerheid ontvang en hy en sy gesin, asook die motorbestuurder, moes terugkeer na die lughawe,” sê hy.

Hulle is daarna in isolasie geplaas.

Naanda sê die gesin het met Ethiopian Airlines via Addis Ababa in Ethiopië en Seoul in Suid-Korea na Tokio gevlieg.

“Dit was ’n baie lang vlug. Soos jy weet, laat geen land ’n passasier toe wat nie ’n negatiewe PCR-toetsuitslag kan toon nie,” sê Naanda.

Hy kon nie sê hoe lank die gesin in Namibië was of waar die begrafnis plaadsgevind het nie.

Die minister van gesondheid in Japan, Shigeyuki Goto, sê die diplomaat het aanvanklik geen simptome getoon nie, maar het gister koors gehad, berig The Associated Press (AP).

Hy het volgens Goto in Julie sy tweede dosis Moderna-entstof ontvang.

Altesaam 70 ander passasiers op dieselfde vlug, insluitend sy twee gesinslede, word as noue kontakte beskou. Hulle het almal negatief getoets en is in selfisolasie. Hulle word deur die Japannese gesondheidsowerhede gemonitor, berig AP.

Die tien bemanningslede van die vliegtuig het nie in Tokio tyd deurgebring nie, maar dadelik hul vlug na ’n volgende bestemming voortgesit.

Intussen is 40 inwoners van Tokio ook as sy noue kontakte geïdentifiseer en hulle sal in kwarantyn geplaas word by fasiliteite wat deur die stad se metropolitaanse regering aangewys is, pleks daarom om tuis gemonitor te word, het goewerneur Yuriko Koike aan joernaliste gesê. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer