Namibiese span wag tifoon Hagibis in hul hotelkamers af
Namibiese span wag tifoon Hagibis in hul hotelkamers af

Namibiese span wag tifoon Hagibis in hul hotelkamers af

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Terwyl super-tifoon Hagibis oor Japan se Honshu-eiland inbeweeg en verwoesting saai, wag die Namibiese rugbyspan in die luukse Park Hotel in Jodogahama die ure af. 

Hulle wedstryd môre om 12:15 Japanse tyd (05:45 Namibiese tyd) teen Kanada in die Kamaishi Recovery-stadion, kan hulle eerste Wêreldbeker-oorwinning ooit wees.

Voor hulle môre op die veld draf, kan daar letterlik baie water in die see loop.

Ten minste een mens is reeds dood en meer as 'n miljoen is aangeraai om te ontruim as voorsorgmaatreël teen die ergste tifoon in meer as 60 jaar in Japan. Die vorige een van dié omvang, tifoon Ida, het Japan in 1958 getref en sowat 1 000 lewens geëis.

Republikein se Jol in Japan-span is tuis in 'n hotel sowat 10 minute van die Namibiese span af. Hier is ook enkele ondersteuners van die Kanadese span, asook familielede van spelers in die Namibiese span ingeboek.

Kort gelede het die Japanese owerhede 'n noodwaarskuwing op alle selfone laat flits waarin bejaardes versoek is om liefs hul toevlug na veilige skuilings te neem. Kort daarna is almal aangeraai om te ontruim.

Republikein het vanoggend een van dié hoogliggende skuilings naby Kamaichi besoek.

Dit is spesiaal gebou vir natuurramp-ontruimings soos hierdie.

Buiten die waarskuwings op selfone en in die media, word inwoners ook oor luidsprekers langs strate in die woonbuurte en sakesentra op hoogte gehou en gewaarsku.

Kamaishi is sowat 540 km noord van Tokio geleë. 

Terwyl die son hier sak, weet die inwoners van die gebied nie wat die nag inhou nie.

Byna 16 000 mense in die groter Kamaishi-gebied het tydens die verwoestende tsunami in 2011 gesterf en nagenoeg 2 500 se liggame is nooit gevind nie.


Foto: Ronelle Rademeyer
Die Namibiese span besig met hul laaste oefening voor môre se wedstryd.

Sent from my Samsung Galaxy smartphone.

Kommentaar

Republikein 2025-06-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer