Namibiese lorriedrywer beseer in SA staking
Namibiese lorriedrywer beseer in SA staking

Namibiese lorriedrywer beseer in SA staking

Jemima Beukes
Jemima Beukes – Die minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, sê Namibiese owerhede is bekommerd oor die staking van lorriebestuurders in Suid-Afrika waartydens minstens een Namibiër gewond is.

‘n Namibiese lorriedrywer is met ‘n baksteen teen die ken gegooi terwyl hy sy vragmotor in Suid-Afrika bestuur het. Hy kon nie gister vir kommentaar bereik word nie.

Volgens nog ‘n Namibiese lorriedrywer, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, is die situasie besig om buite beheer te raak.

“Ek het so pas teruggekeer, maar is deur my vriende meegedeel dat betogers nou die situasie gebruik om ons drywers te beroof.

“Hulle gaan nou selfs na swaarvoertuigterminusse toe om bestuurders aan te val en te beroof,” het hy gesê.

Volgens die buurland se media vind die staking in protes oor die aanstelling van buitelanders plaas.

“Ons monitor die situasie, maar ons is bekommerd. Ons sal vandag ‘n verklaring uitreik,” het Mutorwa gesê.

Dit volg op ‘n waarskuwing verlede week deur die Trans-Kalahari-Korridor se sekretariaat (TKCS) dat Namibiese lorriedrywers versigtig moet wees.

Die TKCS se uitvoerende direkteur, mnr. Leslie Mpofu, het Namibiese lorriedrywers gevra om alle voorvalle by die naaste polisiekantoor aan te meld.

Die situasie het intussen vererger en verskeie buitelandse vragmotors is aangeval en deur woedende Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders aan die brand gesteek.
- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer