Namibiu00eb steun Botswana in olifantstryd
Namibiu00eb steun Botswana in olifantstryd

Namibië steun Botswana in olifantstryd

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die ministerie van die omgewing en toerisme sê hy ondersteun die Botswana-regering se verklaring oor olifantkarkasse.

“Ons stem saam met die verklaring. Hulle sê berigte wat beweer 90 olifante is gestroop, is vals en verduidelik dat slegs 53 olifantkarkasse ontdek is,” sê die woordvoerder van die ministerie, mnr. Romeo Muyunda, op Republikein se navraag.

“Botswana verklaar verder dat dit voorvalle was wat reeds aangemeld is, waarvan die meerderheid nie gestroop is nie, maar aan natuurlike oorsake gesterf het.”

Muyunda sê die ministerie ondersteun ook teenstroperypogings in Botswana en veroordeel enige stropery.

“Ons sal voortgaan om saam met Botswana teen stropery te werk en alle natuurlike hulpbronne bewaar. Beide lande is deel van die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied (Kaza) wat ons met unieke geleenthede voorsien om sulke uitdagings te takel.”

EWB GEKAP

Die Botswana-regering het die bewaringsorganisasie Elephants without Borders (EWB) daarvan beskuldig dat hy vals inligting versprei oor 87 olifantkarkasse wat tydens 'n lugsensus naby onder meer die Okavango-delta getel is.

“Daar is in geen stadium of op een slag 87 of 90 olifante in enige plek in Botswana doodgemaak nie,” het mnr. Thato Raphaka, permanente sekretaris in Botswana se departement van omgewing, natuurlike hulpbronne, bewaring en toerisme, in 'n verklaring gesê.

Dít kom nadat mnr. Mike Chase van EWB gesê het dié organisasie en dié departement het 87 vars olifantkarkasse gekry terwyl hulle van 10 Julie af 'n uitgebreide lugsensus gedoen het.

Raphaka sê die voorlopige lugsensus wat van 5 Julie tot 1 Augustus gedoen is, het gewys daar was 53 olifantkarkasse en dat die meeste van grootvoete aan natuurlike oorsake dood is.

“Ander is dood in voorvalle van mens-dier-konflik.”

Raphaka het gesê: “Die ware feite is dat die onttrekking van wapens van die departement van wildlewe en nasionale parke (DWNP) géén uitwerking het op doeltreffende operasies van die teenstropingseenhede nie.”

Hy het gesê dit is vir die regering teleurstellend dat die toename in stropery onder olifante in die noorde van Botswa­na (wat die Chobe-, Okavango-, en Ngamilandgebied en die Noord-sentrale distrik insluit) hoofsaaklik toegeskryf word aan die feit dat die teenstropingseenhede onlangs ontwapen is.

'GEEN LEEMTE'

“Dit het geen leemte veroorsaak nie. Inteendeel, teenstropingseenhede volg nou ander strategieë,” het Raphaka gesê.

Hy het gesê dit strook ook met bestaande wetgewing dat die DWNP nie sulke wapens mag toelaat nie.

“Hierdie stap is geneem terwyl korrektiewe maatreëls onderneem word.”

Raphaka het afgesluit: “Bot­swa­na veroordeel ten sterkste enige pogings van inidividue of groepe wat die vals indruk skep dat hulle Botswana se wildlewe meer liefhet as Botswana se burgers. Die regering beklemtoon die feit dat wildlewe die land se nasionale erfenis bly en ons burgers sal dit ten alle koste beskerm.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer