Namibië staak saam in groen protes

Petisie oorhandig

23 September 2019 | Omgewing
Francoise Steynberg - Namibiese skoolkinders, studente en omgewingsbewustes het die afgelope Vrydag in Windhoek se strate opgeruk as deel van die Fridays for Future School Strike, ’n wêreldwye bewusmakingsveldtog oor klimaatsverandering.Hulle was deel van verskeie ander optogte wat Vrydag soos ’n groen protesgolf oor die aarde gespoel het.

Dié internasionale optrede was gemik op wêreldleiers wat vir die Verenigde Nasies (VN) in New York byeen is.

Die boodskap aan politici is “doen jul werk en keer klimaatsverandering”.

Greta Thunberg, die 16-jarige Sweedse omgewingsaktivis wat die betogings geïnspireer het, was aan die voorpunt van ’n optog na die VN-gebou in New York.

Namibiërs wat aan die optog deelgeneem het, het ’n petisie aan owerhede by die ministerie van die omgewing en toerisme oorhandig om te sê hulle is bekommerd dat die land se nasionale strategie oor klimaatsverandering van 2011 en die aksieplan vir 2013 swak toegepas word.

Die ministerie van die omgewing en toerisme het op sy Facebook-blad bevestig die waarnemende omgewingskommissaris het die petisie ontvang, waarin strenger maatreëls teen klimaatverwante kwessies geëis word.

“Ons het die petisie met vreugde ontvang en ons is opgewonde om te sien dat jong mense leiding neem in omgewings- en klimaatsveranderingskwessies, wat gewoonlik as vervelig en onbelangrik geag word,” het die ministerie gesê.

"Ons is toegewy daaraan om die groep se bekommernisse te oorweeg en sal op ’n geskikte tyd reageer.”

Die ministerie het die groep geluk gewens en soortgelyke inisiatiewe aangemoedig, asook meer betrokkenheid by omgewingskwessies.

President Hage Geingob gaan vandag Namibië se vyfjaar- klimaataksieplan by die VN se algemene vergadering in New York oorhandig.

Thunberg het Donderdag die Amerikaanse kongres toegespreek en gesê sy kom nie na hulle met ’n voorbereide toespraak nie – sy dien eerder ’n VN-verslag oor aardverhitting in as haar “toespraak”, “sodat julle nie na my hoef te luister nie, maar na die wetenskaplikes”.

Thunberg, wat vir die Nobelprys vir vrede benoem is, was tot dusver met haar besoek aan Amerika bitter krities oor dié land se gebrekkige benadering tot aardverhitting.

BETOGINGS ELDERS

Die Australiese uitsaaidiens ABC het gesê sowat 180 000 mense het daar aan optogte deelgeneem. Die saamtrekke was baie kleurryk en vlae is saam met plakkate rondgeswaai. Musiek was aan die orde van die dag.

“Ons is moeg mooi gevra,” het ’n plakkaat in Brisbane gelui.

In Londen was die plakkaatwoorde “Ons mis ons lesse om julle een te leer” baie gewild onder leerlinge. Groot betogings het ook in Ierland en Skotland plaasgevind.

In die Duitse hoofstad, Berlyn, was die saamtrekpunt van betogers die beroemde Brandenburg-poort.

Thunberg het later gesê ’n Duitse eko-organisasie het gesê 1,4 miljoen mense het in dié land aan die optogte deelgeneem.

Op die Solomon-eilande in die Stille Oseaan het kinders op die strand in grasrompies betoog.

Altesaam 200 jongmense het die gebou van die minister van omgewingsake in Thailand bestorm en gemaak of hulle op die trappe sterf.

Sowat 500 aktiviste het in Kenia deur die hoofstad, Nairobi, gestap en daarop aangedring dat die planne vir ’n nuwe steenkoolkragstasie laat vaar word.

In Kolkata, Indië, het leerlinge strooibiljette by bedrywige bushaltes uitgedeel wat lui: “Hierdie is die enigste planeet wat ons het.” - Bykomende bronne: Netwerk24/Reuters

[email protected]

Soortgelyk

 

Man steel glo mediese toerusting by staatshospitaal

28 minute gelede | Misdaad

Die polisie in die Kavangostreek het ’n man in hegtenis geneem wat na bewering mediese toerusting uit die staatshospitaal op Rundu gesteel het. Die man...

Man met hope wildprodukte vas

2 ure gelede | Misdaad

'n Namibiese man is verlede week op Divundu met 'n groot verskeidenheid beheerde wildprodukte glo in sy besit in hegtenis geneem. Mnr. Katoima Kandunda is...

Vol ambulans bots teen bees

5 ure gelede | Ongelukke

Drie staatspasiënte is vanoggend lig beseer toe ‘n ambulans van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste ‘n bees op die hoofpad tussen Otavi en...

Miljoene gevra ná ongeluk leerling eis

16 ure gelede | Howe

Henriette Lamprecht – Die ouers van ’n matriekleerling wat in 2016 in ’n motorongeluk dood is en waarin haar vriend ernstig beseer is, dagvaar...

Media 'mishandel' Hage

16 ure gelede | Regering

Denver Kisting – ’n Hoë prys is vir Namibië se demokrasie betaal en strukture mag nie vir persoonlike en politieke gewin misbruik word nie. “Ons...

VERKIESINGS 2019: PRESIDENSIËLE KANDIDATE

16 ure gelede | Politiek

Bernardus SwartbooiLandless People's Movement (LPM) Bernardus Clinton Swartbooi het weggebreek van Swapo toe hy in 2017 weens kritiek teen die regering gedwing is om as...

Weer vir 11 November 2019

16 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met enkele tot geïsoleerde donderstorms in die Noorde, Noordooste en oostelike dele. Elders sal dit gedeeltelik bewolk...

Namibië, China se band opnuut gekap

16 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Pres. Hage Geingob loop veral in die sosiale media deur nadat China se premier, me. Sun Chunlan, gesê het dié land en...

‘Gevaarlike’ man ná vyf dae aangekeer

16 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting – Vyf dae nadat ’n man onder polisiebewaking uit ’n hospitaal verdwyn het, is mnr. San Ricky Geingob weer agter tralies.Hoofinsp. Kauna Shikwambi,...