Namibië reageer met 52-10 sege
Afrigter Allister Coetzee kan nou met hul voorbereidingswerk vir 'n suksesvolle WB-siklus begin.
Andrew Poolman – Namibiese rugby mag maar verder droom en planne smee in sy opbou na die volgende Wêreldbeker, nadat Pieter-Jan van Lill en sy manne eergisteraand met die rug teen die muur hul taak uitgevoer het om die kwalifiserende veldtog na Frankryk 2023 lewendig te hou.
Net vier dae ná hul skoknederlaag (13-24) teen Ivoorkus in dié land se hoofstad Abidjan het die Namibiërs gevaarlik naby aan die rand van 'n vernederende uitskakeling gewankel.
Die span het egter hul vere reggeskud en vir Madagaskar met 52-10 oorheers om seker te maak dat hulle beslis een van die twee lande sal wees wat vanuit Rugby Afrika se groep A-toernooi deurdring.
Die beslissende kontinentale uitdun vir die WB-posisie word geskeduleer om volgende jaar in 'n Top Agt-toernooi op 'n enkele venue beslis te word. Om hierdie Top Agt te bepaal, is toernooie tans in Monastir (Tunisië), Kampala, Nairobi en Abidjan aan die gang om die twaalf te snoei.
Komende Sondag se laaste groepbepaling in Abidjan tussen Madagaskar en Ivoorkus sal dus 'n regstreekse uitklopwedstryd tussen die twee Franssprekende nasies wees, met die weegskaal gelaai in die tuisspan se guns.
Namibië se nuwe hoofafrigter Allister Coetzee, wat skaars 'n week voor die toernooi in Ivoorkus aangestel is, sal nie die enigste wees wat diep verlig voel dat die rampspoed van 'n voortydige uitskakeling Woensdag vrygespring is nie.
Coetzee, wat eers enkele dae voor die eerste wedstryd by sy nuwe span aangesluit het, se taak is grootliks vergemaklik deur die werk wat sy waarnemende assistente Robbie Dickson en Chrysander Botha in samewerking met die krag- en kondisioneringsafrigter Sergio de la Harpe en spandokter Vernon Morkel onder moeilike en ontwrigtende omstandighede vooraf op die oefenveld gedoen het.
“Ek is baie tevrede dat die samespel soveel beter was as in ons eerste wedstryd. Dit was dié groep se tweede wedstryd saam en die verskil in die kohesie was opvallend.
“Die manne het die druk verwerk en karakter gewys; die uitslag is beslis 'n groot verligting. Ek dink ons taktiese beplanning was in die kol,” het Coetzee agterna gesê.
DOMINERENDE VERTONING
Die Namibiërs het Woensdag stelselmatig hul tradisionele oorheersing van Madagaskar afgedwing om te verseker dat hulle die maksimum van vyf ligapunte behaal en niks vir die opposisie oorlaat nie.
Die ritme en vloei wat hulle vier dae tevore in hul eerste toetsrugby sedert Oktober 2019 ontwyk het, het algaande posgevat.
Die Zimbabwiese vroueskeidsregter Precious Pazani was 'n reuse-verbetering teenoor die wyse waarop die Tunisiër Heykel Bahroun laas naweek teen Ivoorkus enige Namibiese momentum in die kiem help smoor het.
Nog 'n verskil was dat Namibië eergister in die eerste helfte saam met die voortdurende wind van die oseaan se kant af gespeel het.
Madagaskar is van die afskop af in sy eie gebied vasgepen, maar het hardnekkig uitgehou totdat losskakel Helarius Kisting sy rekening met 'n strafdoel geopen het.
Die 3-0 het 8-0 geword toe agtsteman Adriaan Booysen vir die eerste drie in die hoek oorgebars het. Hoewel verskeie belowende Namibiese aanvalle nie in punte afgerond is nie, het hulle tog die eilandspan stelselmatig saggemaak.
Die telling het tot 15-0 aangegroei toe die klein skrumskakel Riaan van Zyl in sy tweede toets parmantig tussen die voorspelers deurgebreek het vir 'n drie naby die pale.
'n Insnybeweging naby die losskakel het vir heelagter Johann Tromp sy 29ste drie in sy 45ste toets besorg. Kisting het verdoel en nog 'n strafdoel behaal om Namibië teen rustyd op 25-0 ten volle in beheer te plaas.
Drie minute ná rustyd het die Namibiese voorspelers opnuut hul oorheersing laat geld toe haker Obert Nortje 'n onverdoelde drie ná 'n dryfmaalbeweging gedruk het.
Madagaskar se enigste drie is onder die pale gaan druk toe 'n vasberade aanvaller 'n gaping tussen Riaan van Zyl en André Rademeyer gevind het.
Kisting het sy drie ná 51 minute bygevoeg toe hy in die skrumskakel-posisie opgetel en niemand voor hom gesien het nie. Ricardo Swartz (plaasvervanger) het verdoel (37-7) en Kisting het hierna enduit na nommer 9 verskuif, toe Riaan van Zyl met 'n vermoedelik geskeurde knieligament afgehelp en deur sy jongboet Hanreco vervang is.
Obert Nortje het weer van agter die rolmaal gaan druk – sy derde drie van die toer en sesde in 19 toetse.
Kisting het sy voorspelers 'n blaaskans gegee deur nog 'n strafdoel deur die pale te jaag, voor die plaasvervanger-haker Gerhard Thirion met die laaste beweging van die dag die lynstaandryf met 'n drie afgerond het wat Kisting netjies verdoel het.
Benewens Riaan van Zyl se besering het Ricardo Swartz ná 78 minute die veld met vermoedelik harsingskudding verlaat.
Die toergroep sal na verneem word vandag uit Abidjan vlieg en môre terug in Windhoek wees.
JONGES OORTUIG VAN LILL
Die ervare toerkaptein PJ van Lill het aan die koerant gesê: “Die span het onder druk goed gevaar en het goeie karakter gewys.
“Dit was maar die tweede keer dat ons saam speel en ons het geweet Madagaskar sal met alles wil hardloop. Dus het die afrigters die spelpatroon vereenvoudig sodat ons balbesit behou en druk plaas, wat tot punte gelei het. Elkeen van die 23 spelers het bygedra dat ons gemaklik kon wen met die oog om verder te vorder in die kompetisie.”
Die 37-jarige Van Lill was leier van 'n groep wat onherkenbaar was vergeleke met die 2019 Wêreldbeker. Veral op die reserwebank was 'n groot aantal nuwelinge wat meestal in Namibië klubrugby speel.
“Dis was moeilike tye buite ons beheer dat so 'n klomp ervare spelers nie beskikbaar was nie. Die unie en afrigtingspan het goed onder druk gewerk sodat Namibië 'n kans het om verder te vorder.
“Die spelers het goed gevaar as mens in ag neem dat hulle in Namibië (vanweë Covid) nie mag saam oefen nie, asook onder die omstandighede hier in Ivoorkus. Ek glo die toer was belangrik vir die ontwikkeling van die land se rugby.”
Van Lill sê hoewel hy steeds by sy Franse klub Valence-Romans gekontrakteer is, bly hy beskikbaar vir die kwalifiserende WB-wedstryde volgende jaar.
FOTO’s
Die Namibiese rugbyspan ná hul oorwinning met 52-10 teen Madagaskar Woensdagaand in Abidjan. Foto verskaf
PJ van Lill, Namibiese kaptein wat sedert 2014 in Frankryk klubrugby speel, antwoord in Abidjan die plaaslike media se vrae in vlot Frans ná die sege teen Madagaskar. Skermgreep, Rugby Afrique Facebook

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie