Namibië oper, Walvis toe
’n Verslapping in inperkings beteken geensins Covid-19 het uit ons midde verdwyn nie, het pres. Hage Geingob gister by Staatshuis gewaarsku.
Denver Kisting – Die staatshoof, pres. Hage Geingob, sê fase 3 wat Dinsdag in werking tree, gaan van Namibiërs vereis om groter verantwoordelikheid vir hul gedrag te aanvaar.
Buiten die plaaslike owerheid van Walvisbaai sal al 14 streke van Namibië van 2 Junie van fase 2 na fase 3 beweeg.
Vanweë ’n aantal bevestigde gevalle van Covid-19 in dié hawedorp die afgelope week keer Walvisbaai met onmiddellike effek terug na fase 1, wat ’n staat van inperking behels.
Niemand mag dié plaaslike owerheid verlaat behalwe om noodsaaklike of kritieke dienste of goedere te lewer nie, het me. Yvonne Dausab, die minister van justisie, gesê.
Dié maatreël sal vir sewe dae geld.
Me. Ndiitah Nghipondoka-Robiati, adjunk- uitvoerende direkteur van handel en nywerheidsontwikkeling, het benadruk permitte wat vroeër vir leweraars van dié dienste uitgereik is, bly geldig vir die tydperk van ses maande van die heersende noodtoestand.
Republikein se kuskorrespondent Otis Finck verneem op goeie gesag die regulering van verkeersin- en uitvloei by Walvisbaai sou eers teen 19:00 gister begin het.
Dié reëling is vermoedelik getref om mense wat op Swakopmund en elders woon en nie ’n kritieke of noodsaaklike diens lewer nie, in staat te stel om Walvisbaai te verlaat.
Fase 3 vir die res van die land sal geldig wees vir twee inkubasietydperke (28 dae), het dr. Kalumbi Shangula, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, gesê. “Die waarnemingstydperk sal op ’n weeklikse grondslag gemonitor word en mag verleng word onderworpe aan veranderinge in die land se epidemiologiese situasie,” het hy gesê.
Shangula het gister by Staatshuis gesê daar moet steeds aan gesondheidsriglyne voldoen word. Dit sluit in:
• Die handhawing van ’n sosiale afstand van 1.5 meter tussen mense;
• Die dra van ’n masker in openbare ruimtes;
• Die opskerping van higiëne;
• Die opskerping van ontsmetting van oppervlakke, insluitend openbare vervoer en alle openbare ruimtes, soos skole, busse, speelparktoerusting, gedeelde waterpunte en openbare toilette;
• Die vermyding van openbare ruimtes deur enigiemand met ’n droë hoes, ’n hoë koors of kort asem. Dié mense moet hulle tot die tolvrye Covid-19-nommer wend: 0800 100 100;
• Die boekstawing van klante en kliënte se name en kontakbesonderhede vir kontakopsporing sou dit later nodig word;
• Die samewerking met alle owerhede.
Saamtrekke se perk word ook van tien mense tot 50 verhoog, terwyl skole en tegniese instellings geleidelik tydens fase 3 hul deure sal heropen.
Shangula het gistermiddag by navraag gesê universiteite bly vir eers vir in-persoononderrig toe tot fase 4 – op aandrang van dié instellings.
Kerke mag ook weer hul deure oopmaak, mits hulle aan die gesondheidsregulasies gehoor gee.
Die land se grense bly steeds toe.
Van Dinsdag af sal drankverkope tussen Maandae en Saterdag tussen 12:00 en 18:00 toelaatbaar wees.
Drank mag egter net in private ruimtes geniet word.
Geingob het gister Namibiërs vir hul samewerking bedank.
In dié stadium het die land 22 bevestigde gevalle van Covid-19, van wie agt aktiewe gevalle is.
Daar is steeds geen sterfte weens dié virus aangemeld nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie