Namibiu00eb (ook) in ry vir Covid-19-entstof
Namibiu00eb (ook) in ry vir Covid-19-entstof

Namibië (ook) in ry vir Covid-19-entstof

Namibië is deel van die Covid-19-entstof Globale Toegangsgeriewe (Covax) wat deur Gavi, die Entstof Alliansie, gelei word.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Pfizer en sy Duitse vennoot BioNTech, se kandidaat- en eksperimentele entstof teen Covid-19 het ’n sukseskoers van 90%.

Die entstof moet in twee dosisse 28 dae uitmekaar geneem word. Dit is die eerste medisynevervaardigers wat suksesvolle uitslae in grootskaalse kliniese toetse op ’n entstof teen die coronavirus kon behaal.

Tot dusver is geen beduidende veiligheidsrisiko’s bespeur nie en die maatskappye gaan later vandeesmaand toestemming vir noodgebruik (EAU) van die Amerikaanse Voedsel- en Medisyne-administrasie (FDA) om dit in Amerika aan mense tussen die ouderdomme van 16 en 85 beskikbaar te stel.

Die aanvanklike getal dosisse sal beperk wees. Om dit te kan doen moet die maatskappy twee maande se veiligheidsdata van sowat die helfte van die studie se 44 000 deelnemers insamel.

Pfizer sê ’n tussentydse ontleding is gedoen nadat 94 deelnemers aan die studie die Covid-virus opgedoen en die inenting ontvang het, teenoor diegene aan wie ’n plasebo toegedien is.

Sodra die uitslae van die finale studie bekend is, beplan Pfizer om dit in ’n mediese joernaal te publiseer en te evalueer.

Pfizer en BioNTech het aan die begin van die jaar ’n kontrak van US$1,95 miljard met die Amerikaanse regering gesluit om 100 miljoen entstofdosisse te verskaf. Hulle het ook soortgelyke ooreenkomste met die Europese Unie (EU), die Verenigde Koninkryk, Kanada en Japan aangegaan.

Ten einde tyd te bespaar, het die maatskappye begin om dosisse van die entstof te vervaardig nog voordat hulle geweet het hoe doeltreffend dit gaan wees. Hulle verwag om vanjaar 50 miljoen dosisse te vervaardig – genoeg om 25 miljoen mense te beskerm. Pfizer se doelwit is om volgende jaar 1,3 miljard dosisse te vervaardig.

“Ek is byna ekstaties,” het dr. Bill Gruber, een van Pfizer se vernaamste entstofwetenskaplikes, in ’n onderhoud gesê.

“Dit is ’n groot dag vir openbare gesondheid en vir die kans om verlos te word van die omstandighede waarin ons onsself tans bevind.”

Dr. Albert Bourla, Pfizer se voorsitter en uitvoerende hoof, het die entstof as ’n “heuglike dag vir die wetenskap en die mensdom” in ’n verklaring beskryf.

“Ons bereik ’n belangrike mylpaal in ons entstofontwikkelingsprogram in ’n tyd wanneer die wêreld dit die nodigste het, terwyl die infeksiekoers nuwe hoogtes inskiet, hospitale oorvol is en ekonomieë sukkel om weer op dreef te kom.”

Namibië is deel van die Covid-19-entstof Globale Toegangsgeriewe (Covax) wat deur Gavi, die Entstof Alliansie, gelei word.

Die uitvoerende direkteur in die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, mnr. Ben Nangombe, het vroeër gesê dit gaan Namibië sowat N$200 miljoen kos om die entstof aan te koop. Namibië moet ’n voorafbetaling van 15% (N$29 miljoen) maak.

Covax is ’n globale poging om veilige en doeltreffende entstowwe aan te koop en af te lewer op ’n versnelde tydsraamwerk om dié met die hoogste risiko eerste te beskerm. Aanvanklike dosisse sal so versprei word om gesondheidswerkers te immuniseer, gevolg deur bevolkings wat in hoërisikogroepe vir Covid-19 val.

Volgens die adjunk- uitvoerende direkteur in die ministerie, me. Petronella Masabane, sluit die 20% van die Namibiese bevolking wat in aanmerking vir die entstof kom, mense bo 50 met onderliggende mediese toestande, gesondheidswerkers en personeel by grensposte in. – Eie berig en Netwerk24 – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer