Namibiu00eb onttroon Zim as nuwe Cossasa-kampioen
Namibiu00eb onttroon Zim as nuwe Cossasa-kampioen

Namibië onttroon Zim as nuwe Cossasa-kampioen

Vyf nuwe byeenkomsrekords is deur die NSSU-meisies behaal.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - By die 18de atletiekkampioenskap van die Konfederasie vir Suidelike Afrika Skolesportverenigings (Cossasa) in Francistown, Botswana, het Namibië 67 medaljes geoes om die algehele kompetisie te wen.

Boonop is vyf nuwe Cossasa-rekords deur Namibiërs opgestel.

Dié kampioenskap wat oor drie dae aangebied is, se laaste items is Woensdag afgehandel. Namibië se kleinerige spannetjie het vanjaar, met twee goues meer in die sakkie as Zimbabwe, seker gemaak dat hy die kampioen vir die afgelope drie jaar behoorlik van sy troontjie afgestoot het.

Botswana het 200 atlete in die veld gestoot en Zimbabwe 150, terwyl Namibië net met 88 kinders teen die oormag deelgeneem het. Maar dit het nie die talent van Mia Brand, Chrislene Klein en Chrisel Jenkins verhoed om met vyf blink rekords in die meisies o.15-afdeling huiswaarts te keer nie.

Brand blits die 300 m hekkies in 45.82 sekondes af, terwyl Klein ’n hoogte van 1.63 m in die hoogspring bereik, die 80 m hekkies se tyd verbeter en boonop die verspring met ’n sprong van 5.50 m afrond. Jenkins laat loop in die diskusgooi met ’n beste poging van 37.63 m.

Klein is as die beste o.15-atleet van die spele én die junior victrix ludorum bekroon. Natalie Louw en Ivan-Danny Geldenhuys is die twee beste o.17-atlete en Geldenhuys stap met die senior victrix ludorum weg.

Namibië se individuele medaljewenners sluit in:

Meisies o.17: Sadé de Sousa goud (100 m) 11.90 s. Penexupifo Titus, silwer (3 000 m) 10 minute 04.92 s. Natalie Louw, silwer (hoogspring) 1.61 m en silwer (verspring) 5.66 m. Karlien Botha, goud (gewigstoot) 12.46 m.

Seuns o.17: Ivan-Danny Geldenhuys, silwer (100 m) en goud (400 m) 47.73 s. Conrad Kuhn, goud (gewigstoot) 15.49 m. Jaco Labuschagne, silwer (gewigstoot). Gian Dresselhaus, (110 m h) 14.69 s.

Meisies o.15: Mia Brand, goud (300 m h) 45.82 s. Chrislene Klein, goud (hoogspring) 1.63 m, goud (verspring) 5.50 m en goud (80 m h). Chrisel Jenkins, goud (skyfwerp) 37.63 m en brons (gewigstoot). Tuané Silver, silwer (skyfwerp). Roche Venter, silwer (spiesgooi).

Seuns o.15: Damian van der Ross, silwer (100 m). Leander Louw, silwer (300 m h). Ruben Maree, brons (300 m h). MJ Atkinson, silwer (gewigstoot) en silwer (skyfwerp). Francois Kotze, brons (gewigstoot) en goud (skyfwerp) 49.63 m. Dirk Theunissen, goud, (spiesgooi).

Meisies o.13: Carla Schulz, goud (hoogspring) 1.56 m. Marion Botma, silwer (hoogspring) 1.46 m. Marion van Rhyn, brons (200 m h). M. Nugurungunda, brons (verspring). Jorinda Fourie, goud (gewigstoot) 10.72 m en silwer (skyfwerp) 30.97 m. Leané Boshoff, goud (skyfwerp) 31.10 m en brons (gewigstoot) 9.65 m. Leigh-Marie Visser, brons (spiesgooi).

Seuns o.13: Micino Liseli, brons (100 m). Markus Joshua, brons (hoogspring). Janneman Brand, goud (skyfwerp) 36.20 m. Stefan Geldenhuys, silwer (skyfwerp). Shawn Aupindi, goud (80 m h). Kaylan Hays, silwer (80 m h).

Die finale medaljestand:

Goud: Namibië 26. Zimbabwe 24. Botswana 20. Zambië 7. Lesotho 4.

Silwer: Namibië 21. Zimbabwe 32. Botswana 24. Zambië 2. Lesotho 2.

Brons: Namibië 20. Zimbabwe 17. Botswana 35. Zambië 8. Lesotho 2.

Die span was gister op pad terug uit Botswana en teen druktyd kon Republikein dus nie al die medaljewenners se besonderhede bevestig nie.

Kommentaar

Republikein 2026-02-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer