Namibiu00eb nou deel van Covax
Namibiu00eb nou deel van Covax

Namibië nou deel van Covax

Die suksesvolle implementering van die entstof wanneer dit beskikbaar is, sal die ondersteuning van almal vereis.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Belangstelling is opnuut in ’n entstof teen Covid-19 geprikkel ná ’n aankondiging deur Pfizer dat dit ’n entstof ontwikkel het wat 90% doeltreffend is.

Namibië het reeds sy deelname aan Covax bevestig, ’n internasionale inisiatief om toegang tot die entstof te fasiliteer die oomblik wat dit ten volle goedgekeur is. Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het Namibië die toewydingsooreenkoms met Covax op 5 November onderteken om entstowwe te bekom wat voldoende is om 20% van die Namibiese bevolking in te ent.

Shangula sê die tesourie het toestemming gegee vir ’n voorafbetaling van 15% aan Covax. Daarmee saam is ’n kommunikasiestrategie vir die Covid-19-entstof gefinaliseer.

Volgens die minister skep die strategie ’n platform vir die regering om die publiek te betrek by kwessies rondom die verspreiding van die entstof in Namibië.

“Die suksesvolle implementering van die entstof wanneer dit beskikbaar is, vereis ondersteuning van alle lede van die publiek. Die regering sal op sy beurt verseker dat hy feitelike en volledige inligting deel sodat inwoners volledige en akkurate inligting oor hierdie belangrike en lewensreddende ingryping ontvang,” het hy gesê.

Hy het gemaan dit is kritiek om vals nuus hieroor te vermy.

Met verwysing na Namibië se reaksieplan om die impak van die pandemie in die land te bestuur, sê Shangula, is ’n strategie in ooreenstemming met riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) in werking gestel.

Die ministerie het N$727 miljoen hiervoor ontvang, waarvan N$673,4 miljoen ofte wel 92% reeds bestee is. Die uitgawes was hoofsaaklik vir kwarantyngeriewe (20%); persoonlike beskermende toerusting (PPE’s) en ander beskermende toerusting

(18%), konstruksie, opknapping en ander voorrade (15%) en die aankoop van mediese toerusting (16%).

Die oorblywende 31% is onder meer bestee op Covax, toetsing en personeeluitgawes. Die Covid-19-verantwoordbaarheidsverslag is aan die kabinet voorgelê en die ouditverslag deur die kantoor van die ouditeur-generaal moet nog gefinaliseer word.

Met verwysing na protokols vir kwarantyn en isolasie, sê Shangula, ’n besluit is geneem dat inwoners onder toesig tuis kan kwarantyn en isoleer. Volgens hom is dié beleidsverandering suksesvol geïmplementeer. As gevolg hiervan het die aanvraag aansienlik verminder vir die regering om kwarantyn en isolasie van inwoners te finansier. Tydens die piek van die pandemie was tot 1 766 individue in kwarantyn, terwyl daar tans net 377 mense in die staat se kwarantyngeriewe is.

Shangula het ook verwys na voorvalle waartydens familielede die oorskot van familie oor die grens wou bring wat in buurlande gesterf het.

“Hulle kom by ons grensposte aan sonder om enigiemand vooraf in kennis te stel of met owerhede reëlings te tref en sonder gepaste dokumentasie en bewys van ’n negatiewe Covid-19-toets. Die vervoer van menslike oorskot per bus en met passasiers aan boord terwyl die status van die oorledene onbekend is, is ’n openbare gesondheidsrisiko en ’n potensiële risiko vir Covid-19-oordrag,” het Shangula gemaan.

Volgens hom mag menslike oorskot net gerepatrieer word ná gepaste goedkeuring van die relevante owerhede ontvang is. Dit sal volgens hom help om die publiek se gesondheid te verseker. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer