Namibië kry Reën!

Joshua na die Reën, die gewilde Suid-Afrikaanse band, is op pad Namibië toe!

Joshua na die Reën se unieke musiekstyl en strelende stem boei luisteraars reeds sedert die eerste note van sy debuutalbum, Joshua na die Reën, in 2014 die radio en Afrikaanse musiekbedryf kom verower het.

Ghoema-musiektoekennings vir Nuweling van die Jaar en Beste Kontemporêre Manlike Kunstenaar, asook ’n Huisgenoot Tempo-toekenning vir Beste Nuweling, ’n Woordfees-toekenning vir Beste Solo-Kunstenaar en temaliedjies vir verskeie flieks, televisieprogramme en -veldtogte, was maar net die begin van ’n suksesvolle loopbaan wat baie vinnig vlam gevat het. Vanjaar word hierdie sukses met ’n nuwe vrystelling uit dié talentvolle musikant se eie pen gevier.

Hoendervleismooi is die perfekte woord om Joshua na die Reën se splinternuwe album, Die Wêreld Binne My, op te som. Sy kenmerkende fluweelstem is die perfekte pasmaat vir die interessante kombinasie van kontemporêre klanke en instrumente, wat met groot sorg by elke liedjie ingewerk is, en die eindresultaat is so treffend dat dit aanhangers se harte opnuut sal steel.

“Ek is gebou, jy is gebou en die wêreld binne my is in afwagting oor jou. Kom hardloop deur my woude, kom swem hier in my see. Wees somer oor my berge, want dis hier waar jy regeer - ek in jou en jy in my. . .” is lirieke uit die enkelsnit “Die Wêreld Binne My”, wat eersdaags deur radiostasies vrygestel gaan word.

Net soos die res van die album is hierdie liedjie ’n mengsel van roerende lewenswaarhede en aangrypende melodieë, wat nie net in jou kop kom vassteek nie, maar jou ook onwillekeurig sal laat saamneurie.

“Die titelsnit is basies ’n kombinasie van wat ek met elke liedjie op die album wil sê. Dit is alles in een,” sê die talentvolle musikant.

Anders as die eerste CD, wat meestal gegaan het oor hoop en droom, is Die Wêreld Binne My se liedjies meer persoonlik en gaan dit oor die wêreld binne elkeen wat daarna luister.

“Oor die heuwels en berge, die stof en sterre, die droogte, die tye wat dit voel of alles stroomop is, die tye wat ’n mens droom en dan ook die mooi in dit alles. . . die goeie sowel as slegte tye. Die genre is egter steeds stadium rock soos met die vorige album,” vertel hy.

“Die tema vir die nuwe album draai al in my kop sedert ons die eerste een voltooi het; dat daar in ons elkeen ’n wêreld is wat niemand ooit sal verstaan nie. Ons doel is amper om mekaar stadig maar seker in ons wêrelde toe te laat sodat ons op ’n plek kan kom waar ons ’n waardevolle pad met mekaar kan stap. Ek is geïnspireer deur beelde uit die natuur, mense se stories en die dag toe ek besef het dat die moeilike dinge in jou lewe soms die grootste geskenk is - as jy besluit om dit te koester en iets daaruit te leer - andersins word dit jou grootste vyand en sal dit jou om elke hoek en draai inwag.”

Die CD bestaan uit 16 oorspronklike selfondersoekende snitte, waarvan die lirieke almal ’n jaar gelede reeds voltooi is, maar mettertyd tot volwaardige treffers ontwikkel het wat lewens kan verander.

“Vir my is die grootste uitdaging nog altyd om die spesifieke emosie weer te gee wat ek voel wanneer ek die dinge ervaar waaroor ek sing. Daarom het ons probeer om met hierdie album dinge ’n bietjie anders te doen. ’n Groot verskeidenheid klanke en instrumente is gebruik om die gevoel en beeld te skep wat ons graag wou vasvang.

“Die uitdaging was dus om niks verlore te laat gaan tydens die meng- en bemeesterprosesse nie. Dit het veroorsaak dat die album byna sewe maande langer in die vervaardigingsproses moes deurbring sodat ons kon seker maak die luisteraars hoor alles wat hulle moet. . . en ek is só tevrede met wat musiekvervaardiger Ben Ludik en my broer, Pierre de Villers, gedoen het. Dis min dat jy mense ontmoet wat alles vir jou sal insit. Ek is baie dankbaar. Verder het ons ook nie die stemopnames in die studio gedoen nie. Ek het self opnames met my mikrofoon en skootrekenaar gedoen soos wat die inspirasie my beetgepak het, en dit was baie spesiaal,” sê Joshua.



Hoewel hy nie ’n liedjie as sy gunsteling wil uitsonder nie, glo hy dat luisteraars – buiten vir die titelsnit - ook baie gaan hou van “Stroomop”, “Stof & Sterre” en “Dromers”. Die temalied van die gewilde fliek Vir Altyd, met dieselfde naam, asook “Voshaarnooi”, wat spesiaal vir die fliek Ballade vir ’n Enkeling opgeneem is, is ook op die album.



Een van Joshua se jare lange drome word ook met dié nuwe vrystelling ’n werklikheid. Die album is in samewerking met die Tuks Camerata-koor opgeneem. Joshua het in 2015 ’n reeks optredes saam met hulle, onder leiding van Michael Barrett, gedoen en het besluit om hulle deel van Die Wêreld Binne My te maak.

Die koor het op 13 Maart 2016 saam met Joshua na die Reën by die Aula-teater by die Universiteit van Pretoria opgetree om die CD aan die publiek bekend te stel.

“Dit was ’n absolute voorreg om saam met die koor te werk.

“Dis iets wat ek nog altyd wou doen. Die dimensie wat met hulle hulp geskep is, is iets wat amper klink asof dit deur die eeue weergalm. Daar is soveel drome in my hart om die land saam met hulle vol te toer, sodat mense kan beleef wat die effek van so ’n briljante koor saam met ’n band is.”

Joshua na die Reën het, buiten vir Huisgenoot Skouspel, al die verhoog met gesoute kunstenaars soos Elvis Blue, Jak de Priester, Amanda Strydom, Laurika Rauch, Richard van der Westhuizen, Die Heuwels Fantasties en nog vele ander gedeel en hoop om in die toekoms nog saam met nog baie musikante te werk by wie hy iets kan leer. ’n Oorsese toer en ’n liedjie saam met Elvis Blue is ook op sy wenslysie vir later, maar vir nou gaan hy eers fokus op nuwe musiekvideo’s en om die album te bemark.



As kunstenaar glo Joshua musiek het die krag om emosies weer te gee wat jy nie altyd in woorde kan uitdruk nie, en Die Wêreld Binne My is die perfekte voorbeeld hiervan. Dit bou voort op Joshua na die Reën se wenresep en is ’n versameling roerende sielsmusiek, wat jou sal nooi om jou hart oop te maak en saam te reis deur al die aspekte wat van jou mens maak.

Die Wêreld Binne My kan reeds op www.jndr.co.za bestel word en gaan nie noodwendig in hoofstroom-musiekwinkels beskikbaar wees nie.

“Baie klein dorpies het nie altyd groot musiekwinkels nie, daarom het ons besluit dat ons kleiner winkels (wat graag wil) die geleentheid gaan gee om die CD aan te hou en te verkoop. Sodoende bou ons ook waardevolle verhoudings met mense saam met wie ons in die toekoms ’n pad kan stap.”

Hou sosiale media vir meer inligting dop.

Die besonderhede van Joshua na die Reën se Namibië-toer is as volg:

23 Oktober - Tsumeb

24 Oktober - Swakopmund

25 Oktober - Walvisbaai

26 Oktober - Otjiwarongo

27 Oktober - Winndhoek

29 Oktober - Stampriet

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer