Namibië gerat vir Ebola

Tweede dodelikste uitbreking

09 August 2019 | Gesondheid
Henriette Lamprecht – Die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer en voorkoming (CDC) se kantoor in Namibië is in noue kontak met die CDC-span in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRC) om die land by te staan indien die Ebola-virus sy verskyning in Namibië sou maak.

Namibië het noue handelsbande met die DRC, wat een van die agt lande is wat die Walvisbaaise hawe vir invoere en uitvoere gebruik.

Volgens die Walvisbaai-korridorgroep se logistieke verslag vir 2018 is die DRC ook een van die lande waarvan die hoofmarkte verantwoordelik vir die deurvoer van vrag is.

Van die drie korridors wat Walvisbaai met onder meer lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) verbind, is die Walvisbaai-Ndola-Lubumbashi-ontwikkelingskorridor die besigste roete.

Die DRC is naas Zambië ook vir 26% van die totale volume vraghouers verantwoordelik wat by Walvisbaai deurgang verkry.

Uitvoere na die DRC behels 52,9% van die totale grootmaatvrag wat via Walvisbaai vervoer word.

Volgens dr. Eric Dziuban, CDC se Namibiese direkteur, ondersteun die sentrum Namibië wat reaksie op uitbrekings en voorbereidings betref.

“Ons ondersteun ook die vloei van inligting van die CDC-span in die DRC om met plaaslike beplanning te help,” het Dzuiban gesê.

Sedert die CDC in 2002 ‘n kantoor in Namibië geopen het, werk hy ook nou saam met die ministerie om die MIV-epidemie in die land te pak.

Die span ondersteun ook die ministerie se vermoë om uitbrekings van onder meer hepatitis E, miltsiekte, hondsdolheid, Kongokoors, listeriose, cholera en die H1N1-griepvirus te monitor.

Die uitbreking van Ebola in die DRK is verlede maand deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) tot ’n wêreldwye noodtoestand verklaar.

Tot dusver is 2 753 gevalle en 1 843 sterftes weens die siekte aangeteken.

Rwanda het verlede week ‘n deel van hul grens met die DRK gesluit uit vrees dat die virus kan versprei.

Dít volg nadat die tweede persoon weens Ebola in die grensstad Goma dood is.

Netwerk24 het vroeër berig die DRK het die sluiting van die grens betreur, en dat dit volgens die WHO nie nodig is nie.

Voorstelle dat geen beperkings op reis of handel geplaas word nie is aanvaar, en mense by grensposte buite die streek sal nie gemonitor word nie.

Dit is die tweede dodelikste Ebola-uitbreking in die geskiedenis.

Die eerste geval is in Goma aangeteken.

‘n Gesondheidsnoodtoestand verteenwoordig die hoogste vlak van kommer deur die WHO en is nog net vier keer vantevore gebruik.

Dit sluit die eerste Ebola-epidemie in wat van 2014 tot 2016 in Wes-Afrika gewoed het, waarin meer as 11 000 mense dood is.

Suid-Afrika se Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) het volgens sy jongste verslag gesê die risiko vir die siekte in die land bly laag.

Die WHO het Vrydag gesê daar is tans geen bevestigde gevalle van Ebola buite die DRK se grense nie.

Tans is geen reismaatreëls geïmplementeer wat beduidend met internasionale verkeer na en van die DRK inmeng nie.

Reisigers word wel aangeraai om mediese raad in te win voor hulle op reis gaan en om goeie higiëne toe te pas.

Die WHO sê Ebola-bloeding is ernstig, dikwels dodelik en raak mense en aapspesies.

Die virus kom van wilde diere af en versprei dan onder mense deur direkte kontak met bloed en liggaamsvloeistowwe van geïnfekteerde mense, asook met oppervlaktes wat met dié vloeistowwe besmet is.

[email protected]

Soortgelyk

 

Valskerm-ongeluk eis Chinese vrou

5 ure gelede | Ongelukke

'n Valskerm-ongeluk het die lewe van 'n Chinese vrou, me. Ran Lei (33), Sondagmiddag geëis. Volgens die Namibiese polisie se weeklikse misdaadverslag het die voorval...

Frankfurt-vlugte het hervat

6 ure gelede | Vervoer

Air Namibia se vlugte na en vanaf Frankfurt in Duitsland het hervat.Die Airbus A330-200 is ná die vlerkskade tydens ‘n ligte botsing Saterdagaand by die...

Beserker slaan 2-jarige nefie na bewering met graaf dood

6 ure gelede | Misdaad

‘n Tweejarige seuntjie is vroeg Saterdagoggend dood toe sy 50-jarige oom hom na bewering met ‘n graaf aangeval het, terwyl ‘n driejarige meisie wat hy...

Man vas oor 'diamantsmokkelary'

7 ure gelede | Misdaad

'n Nambiese man is Vrydag in verband met diamantsmokkelary op die grenspos tussen Suid-Afrika en Namibië by Oranjemund in hegtenis geneem.Volgens die Namibiese polisie se...

Laat koppe rol - Jooste, SPYL

23 ure gelede | Politiek

Catherine Sasman - Stemme uit die regerende party dring toenemend aan dat diegene wat beskuldig word van korrupsie onder sy geledere verwyder word.Nadat die beleërde...

Gertze skiet glo vrou

23 ure gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht – Die uitvoerende hoof van die Namibiese Kwalifikasieowerheid (NQA) het die naweek agter tralies deurgebring nadat hy na bewering sy vrou Saterdag in...

Namibiërs betoog oor korrupsie

23 ure gelede | Plaaslik

Tanja Bause - Meer as 200 mense van alle rasse en ouderdomme het Vrydag deelgeneem aan ’n teenkorrupsie-optog in Windhoek wat deur aktiviste gereël is....

VERKIESINGS 2019: PRESIDENSIËLE KANDIDATE

23 ure gelede | Politiek

McHenry VenaaniPopular Democratic Movement (PDM)McHenry Venaani is die leier van die amptelike opposisie en het in 2014 as mees suksesvolle opposisiekandidat 44 271 stemme (sowat...

Weer vir 18 November

23 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met 'n paar donderbuie oor die verre Noordooste, andersins gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm. Winderige...