Namibië en Kenia struikel deur na 2022

Te midde van die Covid-pandemie maak Rugby Afrika vordering met sy Wêreldbeker-uitdunne.
Andrew Poolman
Andrew Poolman



Die tradisionele kragte in Afrika-­rugby soos Namibië en Kenia is steeds op koers in hul wedloop om kwalifisering vir die 2023 Wêreldbeker – hoewel beide dié spanne eers 'n bloedneus in hul ope­ningswedstryde op die lyf geloop het.

Rugby Afrika se kontinentale veldtog vir WB-kwalifisering het oor die jare sy kwota onverwagse uitslae gelewer – met vanjaar se vier openingstoernooie wat boonop met die wêreldwye viruspandemie as 'n reusefaktor moes rekening hou.

Die Afrika-beheerliggaam is tans omtrent halfpad deur sy beplande vier toernooie in Abidjan in Ivoorkus (afgehandel, nadat dit aanvanklik aan Namibië toegeken was), Nairobi in Kenia, Kampala in Uganda en die vierde een in Tunisië wat intussen deur Covid-19 in die wiele gery is.

Die mikpunt met dié vier toernooie is om twaalf lande uit te dun tot die Top Agt, wat volgens beplanning volgende jaar vir die bepalende 2023 Wêreldbeker-uitduntoernooi sal byeenkom. Dié agt spanne sal op 'n enkele plek meeding in die uitklopformaat van kwarteind-, halfeind- en eindstryd.

Die Rugby Afrika-kampioen kwalifiseer vir die Wêreldbeker, terwyl die verslane finalis sy laaste kans in die repechage teen naaswenners van ander vastelande kry.

Die storie sover:



GROEP A

Op die eerste wedstryddag in Abidjan kon Namibië, met Allister Coetzee pas aangestel as sy hoofafrigter tot ná die 2023 Wêreldbeker in Frankryk, eenvoudig nie uit eerste rat kom nie en Ivoorkus, met 'n simpatieke Franssprekende blaser as bondgenoot, wen met 24-13 (drie drieë teen twee).

Die Namibiërs het ondanks dié ongewenste uitslag hergroepeer en met 'n wegholsege van 52-10 (sewe drieë teen een) hul gesag op Madagaskar afgedwing. Sodoende is die voortydige uitskakeling afgeweer wat hulle in daardie stadium in die gesig gestaar het.

Afgelope Sondagaand het die twee Franssprekende spanne mekaar in 'n regstreekse uitklopstryd die stryd aangesê. Madagaskar het 'n verbasend goeie rekord teen Ivoorkus en het weer eens as wenners met 24-19 van die veld gestap.

Die deurslaggewende oomblik in dié wedstryd was toe Ivoorkus met die laaste beweging, diep in beseringstyd, 'n drie gedruk het om binne sewe punte verskil te eindig.

Ivoorkus se verloorbonuspunt en Madagaskar se vier drieë het beide spanne op vyf ligapunte laat eindig – net soos Namibië. Met puntever­skil as maatstaf het Namibië (+31) en Ivoorkus (+6) die knoop deurgehaak ten koste van Madagaskar (-37) wat uitgeskakel is.



GROEP B

Kenia het alles in sy guns gehad teen Senegal en Zambië – insluitend die tuisvoordeel in Nairobi en die beter rugby-stamboek wat met 'n hoër posisie op die wêreldranglys gepaard gaan.

Nogtans het die Keniane op die eerste wedstryddag as verloorders teen Senegal van die veld gestap (20-19).

Die Senegalese het verseker dat hulle die toernooi wen toe hulle Zambië, loshande die swakste van die drie, met 20-5 geklop het.

Sondagaand was Kenia heel voorspelbaar met 45-8 te sterk vir Zambië.



GROEP C

Uganda het Saterdag as die gasheerspan sy gesag afgedwing op die besoekende Ghana met 'n bonuspuntsege van 53-12.

Woensdag kom Ghana en Algerië aan die beurt, voordat die uitgeruste Ugandese Kraanvoëls komende naweek die gunsteling sal wees om teen die laagste gerekende span Algerië die finale spyker in die doodkis te slaan.



GROEP D

Covid-19 het die beslissende invloed gehad toe die groeiende aantal positiewe gevalle klaargespeel het met Tunisië se status as gasheerland vir die groep D-toernooi waaraan Zimbabwe en Burkina Faso ook sou deelneem.

Die pandemie het só erg in die Noord-Afrikaland gewoed dat sy regering ook geweier het dat hul nasionale span die land verlaat, toe die aanbieding na Zimbabwe verskuif is.

Zimbabwe en Burkina Faso vorder dus beide na volgende jaar se finale uitdun, maar hulle ontmoet mekaar tussen 16 en 22 Julie in Zimbabwe in twee wedstryde om te bepaal wie eindig eerste en tweede. Streng maatreëls sal geld en geen toeskouers word toegelaat nie.

Zimbabwe se Sables bevind hulle na berig word reeds sedert middel Mei in 'n oefenkamp, want hulle was veronderstel om na Tunisië te reis, voordat dié plan op die laaste oomblik afgestel is.



VOLGENDE JAAR

Die groepering vir die eerste kwart­eindstryde van 2022 is nog nie ten volle afgehandel nie en Rugby Afrika moet nog op bestuursvlak besluit aan watter land die aanbieding toegeken word.

Hier is egter die bepalings wat reeds bekend is:

Kwarteindstryd 1: A1 (Namibië) teen D2 (Zimbabwe of Burkina Faso)

Kwarteindstryd 2: D1 (Zimbabwe of Burkina Faso) teen A2 (Ivoorkus)

Kwarteindstryd 3: B1 (Senegal) teen C2 (waarskynlik Ghana of Algerië)

Kwarteindstryd 4: C1 (waarskynlik Uganda) teen B2 (Kenia)

Semifinaal 1: Wenner 1 teen Wenner 2.

Semifinaal 2: Wenner 3 teen Wenner 4.

Kommentaar

Republikein 2025-08-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer