Namibië en Kenia draai by honderdtalle
Rugby
Andrew Poolman
Vierduisend kilometer uitmekaar het Namibië en Kenia die naweek vir mekaar slagtande gewys, met reuse-oorwinnings op die derde naweek van die Afrikabeker-rugbykampioenskap vir 2017.
Terwyl Kenia in Nairobi presies honderd punte teenoor Tunisië se tien opgestapel het (rustyd 46-10), het Namibië ewe lekker teen Senegal gebaljaar met 'n wentelling van 95-0 en die voortou in die kompetisie geneem.
Ironies genoeg het Namibië vir driekwart van die wedstryd met een speler kort gespeel, maar só groot was die verskil in klas dat 'n mens dit beswaarlik opgelet het.
Die 22-jarige Namibiese haker Louis van der Westhuizen het ná 17 minute sy eerste drie in toetsrugby aan die agterkant van 'n rolmaalbeweging gedruk. Enige feesvieringe was egter grootliks gedemp toe die SA skeidsregter Egon Seconds hom byna oombliklik daarna 'n rooi kaart gewys het. Die blaser het geen keuse gehad nie, want Van der Westhuizen het 'n Senegalese duikvatter op die grond met die kop bygekom.
Die 25-jarige haker behoort vandag voor 'n tugverhoor te verskyn, wat sal bepaal of hy enige verdere rol in vanjaar se toernooi sal hê.
Op die veld het Namibië selfs met 14 spelers eers nog 'n drie gaan druk (Rohan Kitshoff) voordat die volgende skrum toegeken is, waar Obert Nortjé as die verpligte plaasvervangerhaker in sy debuutverskyning opgestuur is. Die onskuldige slagoffer wat moes plek maak, was heelagter Chrysander Botha.
Vir 'n tydjie ná rustyd was Namibië selfs met 13 spelers steeds oorheersend, terwyl slot Mahepisa Tjeriko vir 'n hoogvat in die koelkas was.
Ná sy driekuns in die openingswedstryd teen Tunisië, het die flank en kaptein Rohan Kitshoff 'n stappie verder gegaan deur vier drieë teen Senegal te druk om die logiese aanwysing as speler van die wedstryd te wees.
Losskakel Eugene Jantjies het nie op sy beste geskop nie (ses doelskoppe uit elf, waarvan een die paal getref het), anders kon die telling verby honderd gewees het. Sy plaasvervanger Theuns Kotzé het met drie uit drie doelskoppe geslaag.
Benewens Kitshoff (4) en Van der Westhuizen, is die ander Namibiese drieë deur agtsteman Adriaan Booysen, vleuels Lesley Klim (2) en Johann Tromp, stut AJ de Klerk, senters Justin Newman en Darryl de la Harpe, flank Thomasau Forbes, plaasvervangers JC Greyling en Theuns Kotzé gedruk.
Die arme Senegal, wat selde in Rugby Afrika se topafdeling blootgestel word, het in die laaste paar minute 'n strafskop pale toe gemik (telling 87-0), maar die tienmeterlyn was te ver vir die skopper.
Die puntestand ná die naweek:
Namibië 10 punte ná 2 wedstryde
Kenia 7 punte ná 2 wedstryde
Uganda 6 punte ná 2 wedstryde
Zimbabwe 4 punte ná 1 wedstryd
Senegal 1 punte ná 3 wedstryde
Tunisië 0 punte ná 2 wedstryde
• Namibië se oorblywende wedstryde op die volgende drie naweke is teen Zimbabwe (tuis), Uganda (weg) en Kenia (tuis).

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie