Nambala en Shikongo positief oor Spele

Paralimpiese atletiek
NAMPA
Die kampioennaellopers Ananias Shikongo en Johannes Nambala sê hulle is opgewonde oor hul vooruitsigte by die 2021 Paralimpiese Spele wat volgende jaar vir 24 tot 4 September in Tokio, Japan, geskeduleer is.

Beide dié siggestremde atlete is medaljewenners by vorige Paralimpiese Speles.

Die Internasionale Paralimpiese Komitee het ’n jaar voor die tyd sy promosieveldtog van stapel gestuur. Die #WaitForTheGreats-aanslag is daarop gemik om mense van Paralimpiese atlete se besondere vasberadenheid bewus te maak om vir die 2021 Spele voor te berei.

Shikongo het by Rio 2016 ’n goue medalje in die 200 meter (T11-klas) by die Paralimpiese Spele verwerf, in ’n Paralimpiese rekordtyd van 22.44 sekondes.

Die 34-jarige veteraan was reeds vroeër vanjaar, voor die Covid-19-inval, druk met sy voorbereiding besig. Met die bekendstelling verlede maand van Rising Phoenix op Netflix, ’n rolprent oor die lewe van gestremde atlete, sê Shikongo sê dit alleen maak die afwagting en opbou na die groot oomblik die moeite werd.

Hy vertel: “Met ’n jaar oor voordat die spele in Tokio begin, het ons bykomende tyd gekry om swakhede reg te stele en harder te oefen. Ek is tans goed genoeg op peil om aan die 400 m naelloop deel te neem.

“Rising Phoenix, wat op 26 Augustus begin wys het, was net die regte medisyne wat die dokter vir my as atleet van Afrika bestel het. Die rolprent handel oor ’n Suid-Afrikaanse atleet wat begin deelneem het toe ek reeds as senior my ding op die atletiekbaan gedoen het.

“Ek is ’n getuie hoe hy mettertyd in ’n goeie atleet ontwikkel het en dit motiveer my geweldig dat my storie as Namibiër ook eendag aan die wêreld vertel sal word. In die rolprent word gewys dat nie net Amerikaanse of Europese atlete raakgesien word nie, maar ook atlete van Afrika word erken.”

Die 29-jarige Nambala (T13-klas), wat silwermedaljes in die 200 en 400 m in 2016 gewen het, sê die Covid-19-inperkings maak dit moeilik vir hom om behoorlik te oefen en tot sy volle potensiaal te ontwikkel.

“Sedert vlak 3 in werking getree het, het ons volstoom begin oefen, maar toe die nuutste inperkingsmaatreëls aangekondig is, moes ons noodwendig stop. Omrede net tien mense op ’n slag byeen mag wees, moes ons alleen oefen en vir siggestremde atlete werk dié reëling nie.

“Gelukkig is daar nog ’n jaar oor om te oefen, maar om fiks te bly, sal ’n uitdaging wees. Ek glo Rising Phoenix sal mense beslis meer inlig om gestremde atlete en hul uitdagings beter te verstaan. Dit is nie meer soos in die verlede wat ons verwerp is nie. Die rolprent is goeie advertensie vir sport en mense wat met gestremdheid moet saamlewe,” het Nambala vertel.

- Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-05-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer