Nagtelike kwarantyn-kaperjolle
Vervolging as kwarantynreëls verbreek word, is gister opnuut beklemtoon.
Ronelle Rademeyer
Twee vroue wat glo 'n nagtelike besoek gebring het aan die hotelkamers van bemanningslede van Air Namibia wat in kwarantyn was, is na bewering tot die volgende middag op die terrein versteek om te verhoed dat dié oortreding bekend word.
Die bemanningslede was by Hotel Thule in Windhoek in kwarantyn ná hulle 'n buitelandse repatriasievlug onderneem het.
Volgens 'n ingeligte bron het die twee vroue die betrokke mans die nag van 15 Mei by Hotel Thule besoek.
Die sekuriteitswag by die hek is volgens die bron deur 'n polisiebeampte in kennis gestel die vroue het toestemming om die hotel te besoek.
Die vroue is nadat hulle die volgende middag gevind is, met 'n ambulans deur lede van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se Covid-19-taakspan by die hotel gaan haal.
Hulle is daarna in kwarantyn geplaas.
Mnr. Alwyn van Straten, woordvoerder van die trust wat dié hotel besit, het gister by navraag bevestig personeel by die hotel het die vroue se besoek onder die bestuur se aandag gebring. Hy sê die regte protokolle is dadelik gevolg en die relevante owerhede en instansies is van die verbreking van die kwarantynreëls in kennis gestel.
Van Straten sê mnr. Wolfgang Balzar, die hotel se bestuurder, het rekord gehou van elke oproep wat gemaak is en elke stap wat gedoen is om seker te maak die voorval word aangemeld en die integriteit van die kwarantynproses word beskerm.
Mnr. Ben Nangombe, uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, het bevestig die vroue is daar gaan haal en na kwarantyngeriewe elders geneem.
“Ek wil dit baie duidelik maak niemand word toegelaat om mense in kwarantyn te besoek nie. Dit is 'n oortreding van die regulasies en oortreders kan beboet word,” het hy by navraag oor die kwessie gesê.
Komm. Joseph Shikongo, bevelvoerder van die polisie in die Khomasstreek, het die voorval bevestig en gesê die polisie doen 'n interne ondersoek om te bepaal of die polisiebeampte wat die betrokke aand aan diens was en moes toesien kwarantynreëls word nie verbreek nie, sy plig versuim het. Teen druktyd gisteraand het Air Namibia nog nie op 'n skriftelike navraag oor die aangeleentheid reageer nie, hoewel mnr. Paulus Nakawa, hoof van korporatiewe kommunikasie by die nasionale redery, 'n antwoord voor die einde van die dag beloof het.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie