Nagklubs, toerisme, skole oop in fase 4

Graad 0 tot 3 keer 7 Julie terug

30 June 2020 | Regering
Denver Kisting – Met fase 4 van die noodtoestandmaatreëls om Covid-19 hok te slaan wat om middernag in werking getree het, mag sjebeens weer drank op hul persele bedien mits hulle aan gesondheidsvereistes gehoor gee.

Nagklubs mag ook vir die eerste keer sedert Maart hul deure heropen, het me. Yvonne Dausab, die minister van justisie, gister gesê.

Kragtens die regulasies wat dié fase vergesel, keer voorskoolse leerlinge en dié in graad 1 tot 3 volgende Dinsdag 7 Julie terug skool toe.

Volgens vorige korrespondensie sou dié leerlinge reeds volgende Maandag onderrig van aangesig tot aangesig kon hervat.

Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur sê by monde van sy uitvoerende direkteur, me. Sanet Steenkamp, ouers wat Sondag hul kinders koshuis toe sou neem, mag dit steeds doen.

Kinders sal nie weggewys word nie, het sy gesê.

Maandag sal vir oriëntering gebruik word, terwyl formele onderrig die volgende dag sal hervat, sê Steenkamp.

Graad 7’s en 9’s hervat op 20 Julie onderrig van aangesig tot aangesig, terwyl graad 4, 5, 6, 8 en 10 op 3 Augustus hervat.

Instellings van hoër onderwys hervat ook tydens fase 4.

Skoolhoofde en dié by tersiêre of ander opvoedkundige instellings moet verseker die persone wat toegang het tot hul persele gehoorsaam die gesondheidsvereistes.

MASKERS

Tydens fase 4 moet almal steeds ’n masker dra wanneer hulle in ’n openbare ruimte is.

’n Deurskynende gesigskerm mág gedra word mits ’n masker óók saam met dit gedra word.

Volgens die regulasies mag ’n gemagtigde beampte ’n persoon wat nie ’n masker dra nie, beveel om een te dra of om die openbare ruimte te verlaat.

SAAMTREKKE

Tydens fase 4 is die beperking op die aantal mense by ’n saamtrek, soos ’n troue of ’n begrafnis, 250 – wat 200 meer mense as tydens fase 3 is.

Sameroepers van alle saamtrekke moet ’n register byhou waarin mense hul naam, óf identiteitsnommer óf paspoortnommer en óf sel- óf telefoonnommer moet verstrek.

Die regulasies verplig sameroepers om die register vir die duur van die ses maande lange noodtoestand veilig te bewaar en die inligting vertroulik te hanteer.

Fase 4 loop na verwagting om middernag op 17 September ten einde.

Die land se grense wat tydens die huidige fase steeds toe is, sal na verwagting tydens fase 5 oopmaak.

Toeriste is tydens ’n proeftydperk tussen 15 Julie en 15 Augustus welkom om Namibië te besoek mits hulle by aankoms ’n negatiewe Covid-19-toetsuitslag toon wat nie ouer as 72 uur is nie.

Dié mense en terugkerende Namibiërs moet hulle eweneens aan ’n verpligte kwarantyntydperk op eie onkoste onderwerp.

Namibiërs wie se kwarantyn die regering sal betaal, sluit in:

• studente

• staatspasiënte

• gesondheidswerkers

• mense op humanitêre besoek

• mense op amptelike regeringsendings

Soos tydens die vorige fases staar ’n boete van N$2 000 en of ses maande se gevangenisstraf oortreders van regulasies in die gesig.

Pres. Hage Geingob het Sondag die proklamasie onderteken waarin die regulasies vervat is.

Die Erongostreek is steeds in fase 3 met die uitsondering van die plaaslike owerhede Walvisbaai, Swakopmund en Arandis wat as beperkte areas beskou word. Erongo se fase 3 sal na verwagting op 6 Julie ten einde loop.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Egipte arresteer dokters om kritici stil te maak

10 minute gelede | Internasionaal

Ongeveer tien dokters en ses joernaliste is vanaf Februarie in Egipte in hegtenis geneem omdat hulle die regering van pres. Abdel Fattah el-Sissi kritiseer oor...

Ligte vonnis vir kameelperdjagters

1 uur gelede | Misdaad

Twee Namibiese mans het verlede Dinsdag op Kamanjab 'n ligte vonnis vir onwettige kameelperdjag gekry.Hubertus Alfried Kreiner en Daniel Stephanus Malan is tot 'n boete...

Covid-19 knou Media24

2 ure gelede | Afrika

Media24 oorweeg dit om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit, sy oorblywende maandelikse tydskrifte uit te kontrakteer en hul frekwensie te verminder, twee koerante...

Kenia heropen grense na 4 maande

3 ure gelede | Afrika

Mnr. Uhuru Kenyatta, die president van Kenia, het Maandag die heropening van dié land se grense “in fases” aangekondig.Internasionale vlugte sal vanaf 1 Augustus...

55 nuwe Covid-19-gevalle bring totaal op 593

3 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) dr. Kalumbi Shangula sê 55 nuwe gevalle van Covid-19 is die afgelope 24 uur in die land...

Kleintjies terug skool toe

14 ure gelede | In beeld

Leerlinge vanaf graad 0 tot 3 het gister weer vir aangesig tot aangesig onderrig teruggekeer met leerlinge en ­onderwysers wat opgewonde was om weer by...

Tuiskwarantyn aan kus ’n opsie

14 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) gaan meer buigsaam wees in die kwarantyn van kontakte van bevestigde Covid-19-gevalle in die...

Psemas: ‘Tender sluit almal behalwe Methealth uit’

14 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Dit wil voorkom asof die bepalings van ’n tender om die staat se mediese fonds (Psemas) te bestuur, op so ’n manier...

'Fitty' wil N$16 m. vir borg betaal

14 ure gelede | Misdaad

Jemima BeukesDie Fishrot-beskuldigde mnr. Tamson 'Fitty' Hatuikulipi – wat die staat aanvoer was 'n inte­grale deel van die viskwota-­omkoopskandaal – het sy vaste bates ter...