Naelloopstryde laat vonke spat by kus

Atletiek
Die naelloper Beatrice Masilingi se kragtige vertonings was onder die hoogtepunte van Atletiek Namibië se derde Grand Prix-byeenkoms wat Saterdag by die Vineta-baan op Swakopmund aangebied was.

Crystal Gold het as hoofborg van die byeenkoms groot indruk gemaak danksy die aandag wat aan fyner besonderhede gegee is, sê die organiseerder, me. Leoni van Rensburg.

“Die dag het vlot afgeloop en items is stiptelik afgehandel. Hiervoor is ons aan Crystal Gold dank verskuldig, wat gesorg het dat die baanbeamptes netjies en eenvormig geklee was; daar was ook prysgeld vir die wenner van elke item, asook medaljes vir die topdrie.”

Die jong Masilingi (QSB Windhoek Hochland atletiekklub) het oorwinnings in die 100, 200 en 400 meter behaal om haar status as een van die land se mees opwindende vooruitsigte te beklemtoon.

In die 100 is sy hard gedruk deur die ewe gesoute Jolene Jacobs (12.14 sekonde) in die kleure van Windhoek Gimnasium, op pad na haar wentyd van 12.04.

In die 200 het Masilingi (24.09) met groter gemak die aanslag van Jacobs (24.92) en Christine Mboma (25.05) afgeskud. In die 400 het Mboma ook haar bes gegee (54.14), maar kon nie byhou teen Masilingi se 52.19 nie.

Mboma was wel in ’n klas van haar eie in die 800, waar sy in 2 minute 18.07 sekondes gewen het. Mboma en Masilingi is twee atlete wat reeds vir die junior wêreldkampioenskap later vanjaar gekwalifiseer het.

Van Rensburg wys daarop dat baanatlete se tye op seevlak uiteraard nie so goed as op ’n groter hoogte bo seespieël sal wees nie.

In die hoogspring was daar ’n goeie tweestryd tussen Ida Smeer (QSB Windhoek Hochland) en die gasheerklub Swakop Striders se hoop, Chrislene Klein-Nienaber. Beide het op 1.60 hul beste hoogte bereik, maar op die uittel is Smeer eerste geplaas.

In die ander items vir vroue was daar oorwinnings vir:

1500 meter: Shivoombe Shilongo (Korrektiewe Dienste) 4:46.26.

100 hekkies: Chrislene Klein-Nienaber (Swakop Striders) 16.10.

400 hekkies: Cindy Xo (QSB) 1:24.72.

4x100 aflos: Unam 51.62 sekondes.

Verspring: Frieda Ithete (Unam) 4.94 meter

Gewigstoot: Tuané Silver (Windhoek Gimnasium) 11.97 meter.

Diskusgooi: Karlien Botha (QSB Windhoek Hochland) 39.31 m.

Spiesgooi: Wilmé Els (Swakop Striders) 36.99 m.

MANS

Die 200 meter se naelloop tussen die twee sterkste manne Ernst Narib (21.2 sekondes) van Nampol en Ivan-Danny Geldenhuys (21.4) van QSB was een van die beste tweestryde van die dag.

Geldenhuys was die wenner van die ewe gesogte 400-titel, toe hy teen Narib die bordjies verhang het (47.27 sekondes teen 49.04).

Die gedugte Jesse Urikhob was soos soveel kere tevore die wenner van die 100 meter. Die Nampol-man het in 10.92 hakskene gewys vir sy klubmaat Sandro Diergaardt (10.98) en Even Tjiviju (11.03) van die Korrektiewe Dienste-span.

Onder die juniors was André Retief (QSB) se tyd van 55.54 in die 400 hekkies ook ’n belowende vertoning.

Die ander wenners in die manskompetisie was soos volg:

800 meter: Dawid Dam (Omaruru) 1:55.50.

1500 meter: Dawid Dam (Omaruru) 3:57.16.

5000 meter: Simon Paulus (Korrektiewe Dienste) 14:54.46.

110 hekkies: Fred-Charles Pieterse (Unam) 16.05.

400 hekkies: André Retief (QSB) 55.08.

4x100 aflos: Rietfontein atletiekklub.

Hoogspring: Emmanuel Samuntu (Unam) 2.10 meter.

Verspring: Romario Nghifitikeko (Swakop Striders) 6.32 meter.

Gewigstoot: William van Wyk (QSB) 10.55 meter.

Diskusgooi (senior): William van Wyk (QSB) 31.04 m.

Diskusgooi (o.20): Ludwig Huber (QSB) 37.63 m.

Diskusgooi (o.19): Leeorr-el Breytenbach (Windhoek Gimnasium) 55.59 m.

Spiesgooi (o.10): Ludwig Huber (QSB) 54.35 m.

Spiesgooi (senior): William van Wyk (QSB) 45.68 m.

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer