Naaldwerkprojek nou meer professioneel
Naaldwerkprojek nou meer professioneel

Naaldwerkprojek nou meer professioneel

Hier word lewens verander
Tanja Bause
Tanja Bause

Ses Sanvroue in die informele nedersetting van Grootfontein is besig om met die hulp van me. Linda Pretorius hul lewens te verander.
Die vroue wat by die Hearts, Hands and Voices naaldwerkprojek betrokke is, wissel van 24 tot 72 jaar oud.
Hulle maak rokke, voor­skote, kinderklere, sakke, blokkieskomberse en pennehouers wat een keer per maand op die boeremark op die dorp verkoop word.
Verlede jaar is twee naaldwerkmasjiene aan die projek geskenk.
“Te danke aan dié masjiene kan ons meer werk doen en ons lewensomstandighede verbeter,” het me. Monika Gamses gesê.
Verlede jaar het die projek ook ’n skenking van €200 van mnr. Sam Kok Jye van Singapoer ontvang. Hy het op ’n stadium in Namibië gewerk waar hy die land en sy mense leer ken het. Op besoek in Duitsland by me. Yvonne Plocher, wat ook telkemale in Namibië was, het hy besluit om vir haar die geld te gee om hier aan ’n waardige projek te skenk.
“Ek het die vroue gevra wat hulle benodig en hulle het gesê hulle wil ’n winkel bou. Mnr. Kok Jye se geld is gebruik vir materiaal en die res is deur besighede van Grootfontein geskenk,” het Pretorius gesê.
Sodra bouwerk voltooi is, gaan die vroue die kamer gebruik om klere te maak en om kliënte te ontvang.
“Ons sal dan kliënte wie se klere ons herstel of maak, in die winkel kan bedien en nie meer in die stof onder ’n boom nie. Dit laat ons baie professioneel lyk en voel,” het Gamses gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer