N$423,4 miljoen vir justisie
N$423,4 miljoen vir justisie

N$423,4 miljoen vir justisie

Die minister het beloof geld wat aan sy ministerie toegeken word, sal goed aangewend word.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Ondanks goeie vordering in die implementering van programme lê daar nog groot uitdagings vir die ministerie van justisie voor.

Só het die minister van justisie, dr. Albert Kawana, in sy begrotingstoespraak in die Nasionale Vergadering in 'n gesamentlike sitting van die parlement gesê.

Kawana het in sy uiteensetting van sy departement se begroting vier programme geïdentifiseer naamlik administrasie, regsdienste, goeie bestuur en koördinasie- en ondersteuningsdienste.



Administrasie

Die program vir die administrasie van die Namibiese regstelsel maak voorsiening vir regsverteenwoordiging vir hulpbehoewende mense en die administrasie van boedels, insolvensies, trusts en die Voogdyfonds.

Kawana het gesê die voorsiening van bystand aan persone wat nie in staat is om regsverteenwoordiging in kriminele en siviele sake te bekostig nie, spruit uit artikel 95(h) van die Namibiese Grondwet wat voorsiening maak vir regshulp aan behoeftige burgers op die staat se koste.

Kawana het verder gesê die direktoraat van regshulp speel 'n belangrike rol in die bevordering van toegang tot die reg en is verantwoordelik vir die finansiering van regsverteenwoordiging in meer as 80% van kriminele verhore in Namibiese howe.

'n Nuwe sisteem vir die administrasie van boedels en trusts en die bestuur van die Voogdyfonds via die internet word ook beplan.

Hy het verder genoem die Namibiese wet bepaal dat die meester van die hoërhof rekords van trusts hou en dit jaarliks moet opdateer om te verseker dat trusts nie vir geldwassery-­aktiwiteite gebruik word nie.



Regsdienste

Die regsdiensteprogram het ten doel om regeringsbeleid in wetgewing om te skakel en regshervorming en internasionale samewerking te bevorder.

Dié direktoraat is ook verantwoordelik vir Namibië se menseregte­verpligtinge.



Onderhoud

Die ministerie het 'n nuwe afdeling geskep om die implementering van die Onderhoudswet van 2003 te fasiliteer. Beamptes en ondersoekers is aangestel, maar vanweë finansiële beperkings in die huidige begroting is hulpbronne nie beskikbaar gemaak vir die implementering van hierdie belangrike maatreëls nie.

Tradisionele owerhede

Kawana het erkenning aan die rol van gemeenskapshowe as 'n alternatief vir die oplossing van dispute in sy toespraak genoem. “Ek skakel met ons tradisionele owerhede en sal voortgaan met konsultasie sodat ons die administrasie van geregtigheid op gemeenskapsvlak kan verbeter,” het hy gesê.



Regshervorming

Nog 'n belangrike aspek van regsdienste is die omskakel van regeringsbeleid in wetgewing – 'n proses wat die kundigheid van ervare wetsopstellers vereis. Daar is tans 'n kritieke­ gebrek aan hierdie kundiges. “As iets nie gedoen word om die kritieke tekort aan ervare wetsopstellers aan te spreek nie, sal ons meer uitdagings in die wetgewende proses ervaar wat die werk van die wetgewende arm van die regering sal belemmer,” het Kawana gesê.



Goeie bestuur

Die kantoor van die ombudsman, wat wanbestuur, die skending van menseregte en die benadeling van die omgewing ondersoek, val onder die ministerie se goeie bestuurprogram.

Ander groot projekte wat in die 2017-'18 finansiële jaar deurgevoer sal word, is klinieke vir die indiening van klagte, die menseregte-aksieplan, openbare verhore oor rassisme en rasse- en algemene diskriminasie, ondersoeke na verkwisting deur dorpsrade en 'n vergelykende studie van onderwysfasiliteite in landelike en stedelike areas, sowel as lang vertragings in die finalisering van kriminele sake teen polisiebeamptes.



Ondersteuningsdienste

Die koördinasie- en ondersteuningsdiensteprogram het ten doel om administratiewe en tegniese ondersteuning aan ministeriële programme te bied om behoorlike finansiële bestuur, geslagsgelykheid, kapasiteitsbou en die billike verspreiding en doeltreffende gebruik van bronne te verseker.

Van die groot projekte sluit in die nuwe hofgeboue wat by die Rehoboth-landdroshof en in Helao Nafidi in die Ohangwenastreek opgerig is. Intussen word beoog om die konstruksie van die nuwe landdrosgebou in Katima Mulilo en die aanbouings by Windhoek se hoërhof hierdie jaar te voltooi.

Kommentaar

Republikein 2025-06-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer