N$1,5 miljard vir een jaar se salarisse
N$1,5 miljard vir een jaar se salarisse

N$1,5 miljard vir een jaar se salarisse

Die Windhoekse stadsraad se jongste begroting toon hulle verwag ’n bedryfsverlies van bykans N$500 miljoen in die huidige boekjaar.
Denver Kisting
Denver Kisting – Vir die 2019-’20-boekjaar gaan die belastingbetaler meer as N$1,5 miljard vir die Windhoekse stadsraad (CoW) se salarispakkette moet opdok.

Dit beteken CoW se maandelikse salarisrekening beloop nagenoeg N$129 miljoen.

Vir die huidige finansiële jaar beloop die verwagte bedryfsverlies N$494,6 miljoen.

Die afdeling: infrastruktuur, water en tegniese dienste is die grootste salaristrekker – N$316 miljoen per jaar – met die stadspolisie kort op hul hakke met N$309 miljoen per jaar.

Ondanks die huidige werklikheid dring die Staatdienswerkersvakbond (Napwu) aan op ’n 15%-salarisverhoging terugwerkend tot 1 Julie.

Dit is ongeveer vyf keer meer as die huidige inflasiekoers van 3,6%.

Mnr. O’brien Hekandjo, hoof van CoW se elektrisiteitsdepartement, het Vrydag toe hy as uitvoerende hoof waargeneem het, gesê loononderhandelings begin môre.

Al wat hy in dié stadium kan bevestig, is dat die bedryfsbegroting in sy geheel met 5% toegeneem het, het Hekandjo gesê.

Hy sê CoW probeer alles in sy vermoë om sy uitgawes binne perke te handhaaf.

Mnr. Samuel Mutonga, waarnemende strategiese hoof van finansies en kliëntediens, sê die jongste tariefaanpassings bring ’n verhoging van 8%, 10% en 11% vir huishoudings van Katutura, Doradopark en Olympia onderskeidelik teweeg sónder die kosteimplikasies van water en krag.

Dié uitgawes word volgens verbruik aangeslaan.

“Die gemiddelde word bereken geskoei op die totaal van heffings en belastings, vullisverwydering en rioolbestuur van die steekproefhuishoudings. Dit moet egter in gedagte gehou word bogenoemde mag verskil afhangend van die eiendomwaardering,” het hy gesê.

Die plaaslike owerheid het tans 2 006 werknemers.

Ofskoon verskillende salarisskale geld, kom die huidige besteding aan salarispakkette op ongeveer N$65 000 per persoon per maand neer.

Advertensies by die duisende

Advertensies vir die kantoor van die uitvoerende hoof sal na verwagting N$880 000 in die huidige boekjaar beloop – N$80 000 minder as die N$800 000 wat vir geleentheidsbestuur en –beplanning begroot is.

Die bestuur van verandering en die meegaande beleidsontwikkeling vir die kantoor van die uitvoerende hoof alleen sal die belastingbetaler na verwagting N$2,25 miljoen kos, terwyl CoW N$1,47 miljoen vir beraadslaging vir dié kantoor begroot het.

’n Halfmiljoen is begroot vir “plaaslike samewerking en interne betrekkinge” teenoor die N$150 000 vir die kantoor se korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid.

N$5,4 miljoen is vir dié kantoor se regsonkostes begroot, terwyl CoW beplan om N$450 000 aan verversings vir die uitvoerende hoof se kantoor te bestee.

Sonder die tersaaklike uitgawe vir opleiding is N$1,4 miljoen vir reis en verblyf vir dié kantoor vir die jaar begroot.

Stadspolisie jaag uitgawes op

Om hul werksaamhede te verrig, word meer as N$3 miljoen vir die huidige boekjaar vir die stadspolisie se brandstofverbruik begroot.

Eweneens verwag die stadspolisie om N$3,4 miljoen te bestee aan die instandhouding van voertuie, terwyl die belastingbetaler nagenoeg N$1,1 miljoen vir padtekens en straatnaamborde se herstel en instandhouding moet opdok.

Uit hondelisensies hoop die stadspolisie om N$22 800 te in, terwyl hulle daarvoor mik om N$8,5 miljoen uit verkeersboetes te verdien en boetes weens oortredings wat met munisipale wette verband hou.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer